Geliefde gemeenskapslid en DA-raadslid van die Mangaung-metro Rossouw Botes (66) is gister om 18:00 in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorlede.
Botes, wat die afgelope week in die hospitaal was, het die afgelope jaar ernstige gesondheidsuitdagings ondervind. Hy het in 2023 in Kaapstad ‘n groot hartoperasie ondergaan en was sedertdien aan ‘n rekenaar gekoppel weens die noodsaaklikheid van ‘n linkerventrikulêre ondersteuningstoestel.
Botes het sy loopbaan in openbare diens begin as die wyksraadslid van wyk 25, wat Fichardtpark en Pellissier insluit. Sy toewyding aan die gemeenskap het oor 16 jaar gestrek, waarna hy vroeër vanjaar weens gesondheidsredes ‘n proporsionele raadslid geword het. Hy was bekend vir sy harde werk en sy bereidwilligheid om altyd te help.
Sy betrokkenheid by die Pellissier-gemeenskap het oor 40 jaar gestrek. Hy was vir 14 jaar ‘n diaken in die NG kerk Pellissier en het vroeër op die beheerliggaam van die Laerskool President Brand gedien. In Augustus verlede jaar het hy ‘n operasie ondergaan waar ‘n linkerventrikulêre ondersteuningstoestel in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in hom oorgeplant is, nadat daar geen geskikte skenkerhart beskikbaar was nie. ‘n Tweede hartoperasie met die plasing van ‘n stent het vroeër vanjaar gevolg.
Rossouw Botes word oorleef deur sy vrou, Eljo, en twee dogters. Sy nalatenskap van toewyding en diens aan die gemeenskap sal vir altyd onthou word.