Een van die stigterslede van die Brandkop-bewarea in 2010 in Pellissier, is onlangs postuum vereer met die plant van drie inheemse bome.
Rossouw Botes, wat vir jare die wyksraadslid vir Pellissier was, is op ’n spesiale geleentheid op Saterdag 26 Oktober vereer vir sy jarelange bydra tot Pellissier en sy mense.
Dr. Anthony Orrock het op die geleentheid gesê hulle eer Botes vir sy diplomasie.
“Hy was ’n hoë boom wat vir ons baie skaduwee gegooi het. Hierdie bome moet nog hoog word, sodat hulle vir ons ook kan skaduwee gooi,” het hy op die geleentheid gesê.
Paul Kotze, die nuutverkiesde wyksraadslid vir wyk 25, sê dit is gepas dat die bome wat geplant is, kareebome is.
“Dit is die boom van die jaar. In ons lewe was Rossouw die man van die jaar,” het hy gesê.
Nog ’n stigterslid van die Brandkop-bewarea, Hercie Venter, sê Botes was altyd entoesiasties en optimisties.
“Hy het voor gevat met die stigting van die bewarea en daar is later kareebome en olienhoutbome geplant. Die bome is ’n blywende getuienis van Rossouw se betrokkenheid by Pellissier en die bewarea.”
Jacques Olivier van die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA), sê daar was wonderlike samewerking tussen Fichardtpark en Pellissier met die stigting van ’n stedelike bewarea.
“Die plant van bome is een van die mooiste maniere om Rossouw se nalatenskap te onthou,” het hy gesê.
Ansie Coetzee sê die Brandkop-bewarea grens aan ongeveer 90 huise in Pellissier. Die bestuur van die Brandkop-bewarea sê hoewel inwoners van oor Bloemfontein gereeld hier kom draf, stap en fietsry, is daar talle uitgawes om die bewarea in stand te hou. Die Brandkop-bewarea se ondersteuners bestaan uit ’n paar klein skenkers en 20 vrywillige lede.
Verder help Trots Pellissier met die versorging van die ingang en die beskikbaarstelling van hulpbronne, die FWA maak ’n maandelikse bydra en ITR verskaf veiligheid vir die bewarea.
Kry meer inligting op die Facebook-blad Brandkop Conservancy/Bewarea.