menseredding

Len-Douglas Mac Kay en van sy spanmaats wat die naweek uitgeblink het in die Internasionale Mesereddingsfederasie se Afrikabekertoernooi in Alexandria in Egipte.

Die enigste junior lid van die Protea-mensereddingspan het puik gevaar in die Internasionale Mensereddingsfederasie (ILF) se Afrikabekertoernooi wat in Alexandrië, Egipte, aangebied is.

Len-Douglas Mac Kay, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché, het Vrydag (18/02) in die 600 m-branderswemnommer meegeding en ’n vyfde plek behaal. Boonop was hy die tweede Suid-Afrikaner om die uitdaging te voltooi.

Saterdag het hy ’n agtste plek in die swem-en-hardloopnommer behaal.

Op dieselfde dag het Len-Douglas die Proteas se B-span gehelp om ’n goue medalje in die pypreddingsnommer (“tube rescue”) te behaal.

Met paddavoete aan moes hy met ’n reddingspyp 250 m in die Middellandse See inswem om ’n “pasiënt” te gaan red en met hom terug te swem strand toe. Daarna het twee van sy spanmaats die “pasiënt” kom uithaal en na die wenstreep gehardloop.

“Ek kon nie die strand so lekker sien nie en het skeef begin swem,” sê Len-Douglas.

Hoewel hy nie so goed geswem het soos wat hy wou nie, het sy span die ander met sowat 50 m geklop.

“Ons was verstom dat ons selfs ons A-span geklop het.”

Len-Douglas sê dit is moeilik om ’n nuwe lid van die Protea-span te wees en veral uitdagend om in die see mee te ding. Tog reken hy sy spanmaats het hom betrek en laat welkom voel.

Hy sê die weer was Vrydag lekker, maar Saterdag was dit koud en ’n sterk wind het gewaai.

“Die Middellandse See was baie rof.”

Hy het Maandag (21/02) na Bloemfontein teruggekeer, maar vertrek weer die naweek na die Vaaldam, waar hy aan die Suid-Afrikaanse stilwaterbyeenkoms gaan deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.