Ek kyk gereeld na ’n realiteitsprogram op TV genaamd Counting Cars.
Dit handel oor die manne van ’n werkswinkel in Amerika wat duikklop- en herstelwerk aan motors doen.
Hulle kry van iewers af ou voertuie – sommige word deur kliënte gebring terwyl ander van skrootwerwe kom.
Jy kan nou dink dat sommige van hierdie veteraanmotors eintlik net ’n dop is. Die binnegoed is verweer of verrot. Die enjin is verroes of heeltemal verwyder.
Baie van die wrakke in hul oprit, is volgens my, by die punt van redding verby. Maar dan, begin die proses van restourasie. Hulle haal alles – en ek bedoel alles – uit die afgeleefde motor. Dit word sorgvuldig afgeskuur. Geroeste dele, word met sorg herstel. Nuwe bekleedsel word vir die sitplekke gemaak. Die paneelbord kry splinternuwe moderne instrumente, wat van iewers bestel of handgemaak is.
Die spuitverfwerk aan die ou karre of motorfietse is iets om oor huis toe te skryf. Die verwer, met sy lang hare en tatoeëermerke lyk ietwat onafgerond, maar sy hande spuit kunstige patrone, lyne, vlamme en vele ander kreatiewe ontwerpe op die herstelde bakwerk. Sy talent en kreatiwiteit is ongekend.
Dan breek die tyd aan waarop die eienaar van die ‘projek’ kom inloer. Die gerestoureerde motor of motorfiets word uit die werkswinkel gery. My mond hang telkens oop wanneer ek die eindproduk sien. Dis nie bloot herstel nie, dis oorgedoen, nuut, pragtig. Dit lyk beter as die dag toe dit uit die fabriek gekom het. ’n Kunswerk waarvoor enigeen sakke vol geld sal betaal. Die wrak word ’n erfstuk wat van geslag tot geslag in die familie sal voortleef.
In my geestesoog sien ek my hart. Dis stukkend van jare se liefhê en seerkry. Dis verweer van bekommernis oor die lewe se dinge. Dis meer as ’n halfeeu oud. My hart – so dink ek – is bedoel vir die skrootwerf van afgeleefde harte. Maar dan lees ek in God se Woord dat Hy my wil nuut maak, oormaak, restoureer. Hy is in die restourasie-besigheid, nes die manne van Counting Cars. As Hy aan my hart werk, hanteer Hy dit met sorg. Sagkens. Hy is nie haastig nie. Die Skepper van my gees, siel en liggaam is bereid om baie tyd af te staan om my te herskep. Hy wil hê ek moet my denke vernuwe. Hy het bedoel dat ek die lewe moet kies en in oorvloed sal lewe.
Wanneer die eienaar in die gerestoureerde voertuig klim, zoem die kamera op sy gesig in. Jy kan die verwondering in sy oë sien. Die pure vreugde van die herlewing straal uit sy gesig. Sommige van hulle stort selfs ’n traan of twee. Hierdie ongekunstelde emosies bring soveel bevrediging vir die span van Counting Cars. Ek is seker die klein fortuin wat hulle kry, is maar ’n bysaak.
Die herstelwerk wat God aan my hart en lewe doen, is gratis, mahala, verniet. Ek betaal nie ’n sent daarvoor nie. Al wat Hy van my wil hê, is suiwer verwondering, dankbaarheid en verhouding met Hom.