Jare se rekordhouding kom tot sy reg in ’n boek wat 125 jaar van Vrystaat-rugby se geskiedenis vertel.
Cheetahland: 125 jaar van lief en leed sluit heelwat van die eeufeesboek Vrystaat! 100 Jaar Van Hardlooprugby in. Eertydse Volksblad-redaksielede Herman le Roux en Frikkie van Rensburg het aan dié eeufeesboek gewerk.
Cheetahland is propvol feite en verrassings. Dit bied ’n blik op die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) se bedrywighede, met elke dekade wat op sy eie bespreek word.
Een hoofstuk is ook gewy aan die VRU se rekords en prestasies oor die afgelope 125 jaar.
Van die hoogtepunte wat Van Rensburg uitsonder, is dat die Springbokke Gysie (1976) en Ruan (2019) Pienaar die enigste Vrystaatse pa-en-seun-kombinasie is wat kan spog dat hul span die Curriebeker gewen het.
“Dit is ook interessant dat Louis du Pisane (1957-1960) en sy Springbokdogter Louise (2004-2006) albei vir die Vrystaat uitgedraf het,” sê hy.
“Die datum, teenstander en uitslag van elke wedstryd wat die Vrystaat, of die Cheetahs, soos hulle deesdae bekend staan, in die 125 jaar tot 2020 gespeel het, word volledig gegee, asook die lede van elke span.”
Volgens Van Rensburg is die boek propvol interessante statistieke soos die oudste, jongste, langste, kortste, swaarste en ligste spelers. Dit gee ook inligting oor kapteins, spelers wat die langste stelskoppe behaal het en Vrystaters wat internasionale toetse as skeidsregter hanteer het.
Van Rensburg het op 1 Desember 1964 by Volksblad begin werk en op 4 April 2005 – 40 jaar, vier maande en vier dae later – afgetree.
Van 1992 tot 2005 was hy Volksblad se sportredakteur. In dié tyd het hy onder meer vir News24, die VRU, SuperSport en SuperRugby statistieke gehou.
Tom Ferreira, nog ’n oudredaksielid van Volksblad, vertel in Cheetahland hoe Van Rensburg destyds met die hand statistieke van elke wedstryd aangeteken het. Dié dat Van Rensburg statistiek as die “tweede liefde” van sy lewe beskou.
Deur sy roemryke loopbaan het hy nie net statistieke van rugby gehou nie, maar ook van swem, krieket en die Olimpiese Spele van 1964 tot 1996.