Rugbykoors met rooi en groen slaai

Vier die rugby met ‘n groen en rooi slaai saam met Saterdag se braaivleis.


Julie is Wêreld-guacamolemaand, ’n viering wat verlede jaar deur die Wêreldavokado-organisasie uitgedink is.

Siende dat ’n mens in die winter oral avokadopere in die hande kan kry, is dit perfek om dié heerlike vrug nou ten volle te benut.

As jy al gewonder het waar die woord guacamole vandaan kom, hier is ’n interessante brokkie: Dit is saamgestel uit die woorde “ahuacamolli” en “ahuacatl” wat in Spaans avokadopeer beteken en “molli” wat sous beteken. Dit word beskryf as fyngemaakde avokado wat as smaakmiddel tot ’n gereg gevoeg word.

Historici sê resepte vir guacamole is al tussen die jare 1300 en 1500 deur die Asteke in die noorde van Meksiko ontwikkel. Die oorspronklike resep het net enkele bestanddele: avokadopeer, gekapte tamatie, gekapte uie, suurlemoensap en geurmiddels.

Terwyl naweke tyd is om saam met familie en vriende te braai, en dié naweek in die besonder voor of ná die groot toets tussen die Springbokke en die Rooi Drake – hier is ’n idee vir ’n vinnige, lekker guacamole-slaai:

Dit is genoeg vir vier mense.

Jy benodig:

Twee avokadopere (geskil en ontpit)

1 tamatie, opgekap

1 rooi ui, fyngekap

sap van een suurlemoen

rissievlokkies (opsioneel)

Sout en peper na smaak

Maak só:

Sny die avokado op en verdeel vooraf in aparte bakkies saam met die opgekapte tamaties en rooi uie. Druk die suurlemoen daaroor uit en voeg sout en peper by.

Bedien en geniet!
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.