p

Hare waai ná belofte. Rugbyspelers van die Hoërskool Jim Fouché se eerstespan sny die skoolhoof, Henry Wilken (voor) se hare. Agter is van links MJ Meyer en Jadon Roodt (spankaptein) met spanlede wat toekyk.
Wanneer ’n man beloftes maak, moet dit nagekom word.

Henry Wilken, skoolhoof van die Hoërskool Jim Fouché, het gesê as dié skool se eerste rugbyspan die stadsliga wen, kan hulle sy hare afskeer.

Dié span het op 13 Augustus dié liga teen die Hoërskool Sentraal met 19 - 14 gewen.

Woensdag (23/08) op die skool se personeel-melodrama was die hoogtepunt van die geleentheid toe die rugbymanne die skeermes vat en letterlik hul skoolhoof se hare laat waai.

JF se o.19-eerstespan speel Saterdag (27/08) teen die Hoërskool Trio van Kroonstad in die Kovsie Sentralestreek Rugbyliga vir groot skole op Shimlapark.

Dit is die hoofwedstryd van ses wedstryde in die verskillende ligas van dié reeks. Die wedstryd begin om 14:40.

JF het verlede naweek die Hoërskool Upington in Bloemfontein in dié reeks met 38 - 17 geklop terwyl Trio in Welkom die span van die Hoërskool Diamantveld met 21 - 17 geklop het.

Ander wedstryde in die liga-finaal Saterdag op Shimlapark is die o.15-Shimla-jeugliga vir groot skole tussen die Hoërskool Upington en die Voortrekker Hoërskool van Bethlehem om 08:00; die o.15-Irawa-jeugliga vir medium skole tussen die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort teen St Andrews om 09:10; die o.16-Colts-jeugliga vir klein skole tussen Curro Kathu en die Hoërskool Hoopstad om 10:20; die o.19-Colts-liga vir klein skole tussen Curro Kathu en die Hoërskool Vrede om 11:40; en die Irawa-liga vir medium-skole tussen St Andrews en die Hoërskool Bothaville om 13:10.
p

Die Hoërskool Jim Fouché se eerste rugbyspan vier hul oorwinning oor die Hoërskool Sentraal in die stadsliga op 13 Augustus.

You need to be Logged In to leave a comment.