Die trane het gevloei ná die taai kragmeting tussen Grey-kollege (sekondêr) en die Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdal wat Saterdag (05/08) in Bloemfontein beslis is.
Grey het die omgekrapte Suid-Kapenaars in ’n klipharde wedstryd met 36 – 25 getroef.
Grey kon met ’n minuut of twee oor die drie druk wat die telling buite die moedige bulle van die landbouskool geplaas het.
Met die telling op 29 – 25 het Handré du Plessis (regtervleuel) die blitsige Therlow Prins (linkervleuel) op die hoekvlag uitgeduik, wat Oakdale sou laat voorloop het met vyf minute oor.
Oakdale se seuns was ná die eindfluitjie in trane. Hulle was naby daaraan om geskiedenis te maak.
Hulle het nietemin hul harte uitgespeel en Grey met rotsvaste verdediging vir groot dele van die wedstryd goed in toom gehou.
Vir Grey was dit ’n emosionele afskeid van JJ Theron, kaptein, en vier van sy ander Suid-Afrikaanse skolespelers wat die laaste keer in die blou trui van die voorste skolespan vanjaar in die land uitgedraf het.
Theron, Ian van der Merwe (losskakel), Christiaan van der Westhuizen (skrumskakel), Jean Erasmus (stut) en Ranon Fouché (stut) speel almal vir die nasionale o.18-span teen Frankryk en Engeland.
Marno Stopforth (slot) wat vir die SA-sewespan vir die Statebond-jeugspele gekies is, kon nie Saterdag in sy laaste wedstryd teen Oakdale speel nie.
Hy is ook in die nasionale o.18-groep en sal ná sy terugkeer uit Trinidad en Tobago by Theron en sy maats in die Kaap aansluit.
Grey, wat sy onoorwonne status vanjaar behou het, sal sonder dié spelers teen Paul Roos moet klaarkom wanneer hulle oor twee naweke in Bloemfontein kragte meet. Die Vrystaters sal nie net hul onoorwonne status met ’n handvol nuwe spelers verdedig nie, maar ook vir die loesing van verlede jaar op ’n sopnat veld in Stellenbosch wil vergoed.
Theron, wat ook die nasionale span aanvoer, het ná die wedstryd gesê dit was ’n baie taai wedstryd en hulle moes uithaal om Oakdale te klop.
“Die emosies het ’n bietjie oorgeloop in die wedstryd, maar met die Grey-manne op die paviljoen is enigiets moontlik. Gelukkig het hulle vir ons die ekstra energie gegee om die wedstryd deur te trek.”
Theron sê sy hoërskooljare aan Grey was seker die vinnigste vyf jaar van sy lewe.
“Vir enige iemand wat Grey toe kom, kan ek dié raad gee: Geniet elke oomblik, want jy weet nie hoe vinnig dit verbygaan nie. En as jy die kans kry, gee 150% vir Grey, want dit is die moeite werd.”
Hy het ’n seer skouer, maar glo hy sal reg wees om Suid-Afrika se o.18-span op die veld te lei.
Erich Steyn, agsteman van Oakdale wat ’n hele paar balle van Grey gesteel het, was trots hoe die span “hart gewys het”.
- “Ons het vir mekaar gespeel. Ja, ons het hulle op die grond geteiken.” Die Cheetahs het Sondag aangekondig dat hy Van der Westhuizen, Stopforth, Vincent Wolhuter (Grey se heelagter) en Pharrell van Wyk (Grey se tweede losskakel) vir sy Cheetahs Akademie gekontrakteer het. Die Cheetahs het vroeër aangekondig hy het ook die dienste van Keagan Scholtz (flank), die slot Jean Venter en die vleuels Hayden Tolmay en Martin Botha van Grey bekom.
JJ Theron het ’n kontrak met die Bulle geteken.
Die Cheetahs het ook ’n junior kontrak met Tebogo Nkosi (stut) van die Pumas gesluit.