Ruiters gallop plesierig saam en geniet natuur

Dit was Saterdag (11/03) Hermoiné Espag (8) van Reddersburg se eerste plesierrit saam met die Suid-Vrystaat-plesierritklub.


Dit was Saterdag (11/03) Hermoiné Espag (8) van Reddersburg se eerste plesierrit saam met die Suid-Vrystaat-plesierritklub.

Sy en haar ma, Andwa, het saam met sowat 53 ruiters van oor die Suid-Vrystaat heen ’n roete van ongeveer 20 km deur Bainsvlei voltooi.

Koos Wessels, voorsitter van die klub, sê ruiters kom elke maand behalwe Julie en Desember in ’n dorp in die Suid-Vrystaat byeen om saam te ry en in die natuur te ontspan.

“Dit is geen kompetisie nie. Ons is net mense wat lief is vir perde en perdry,” verduidelik Wessels.

“Dit is sosiale geleenthede waardeur ons kans kry om op verskeie plekke te ry.”

Hy, soos baie van die ander lede, ry van kleins af perd vir ontspanning.

Wessels is van Edenburg. Sy vrou, Madelle, wat ook saamgery het, sê sy het aanvanklik aan die plesierritte deelgeneem in die “broodjiespan”.

“Ons het vir die ruiters langs die pad verversings gegee. Ná drie keer het ek besluit dat ek eerder wil saamry,” sê Madelle.

Saterdag het die groep by The Birdcage in Bainsvlei vertoef vir ’n middagete voordat hulle tot by die eindpunt gery het.

Adri van Heerden het Maart se uitstappie gereël.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.