Soms maak ons die lewe heeltemal te ingewikkeld.

Ons lewe is oorvol dinge om te doen, plekke om te besoek en goed om netjies te hou.

’n Onlangse uitstappie met rugsak en tent die Drakensberg in het my opnuut herinner met hoe min ’n mens eintlik oor die weg kan kom.

Aanvanklik was die plan om drie aande in die berg te slaap – maar toe die drie na vier oorspoel, was ons steeds gerat met genoeg kos vir onsself en vir uitdeel aan mekaar.

Toe die son sy eerste ligstrale oor die tente gooi, is ons begroet met ’n skouspel wat jy nie in enige huis kan kry nie – die son wat oor die horison kruip en die groot berg hier dig teenaan ons in ’n oranje lig baai.

Toe die eerste dagstappers van die vakansieoorde daar onder in die vallei by ons verbyloop, voel dit amper asof hulle verby ons “huis” stap.

Tog was hierdie net ’n tydelike staanplekkie.

Ek besef daar is miljoene mense in Suid-Afrika wat ’n karige bestaan voer. In sinkhuisies of ander tydelike strukture bly en die snerpende koue van die Vrystaatse winter met niks meer nie as ’n paar komberse en ’n vuurtjie moet aandurf. Water dikwels aangedra van ’n kraan iewers in die township.

Vir slegs ’n paar aande was ons van bottels water afhanklik vir kosmaak, skoonkom en drink.

Vir sommige is water gaan haal ’n daaglikse roetine. Vuurmaakhout op die kop aangedra.

Ondanks die feit dat soveel mense swaarkry, en talle permanent in tente bly, is daar iets van so ’n eenvoudige bestaan wat ’n mens diep aanraak.

Dink maar aan die beweging waar mense letterlik in ’n eenvertrekhuis woon, of met woonwa of selfgeboude mobiele eenheid deur die land toer.

Besittings moet prakties wees, en verkieslik meerdoelig.

Nie dat al dié klein huisies goedkoop is nie – sommige mense ruk allemintige bedrae uit om so ’n plekkie met al die geriewe toe te rus.

Nee, gee vir my liewer die mense wat ’n eenvoudige, dog gerieflike, bestaan voer.

’n Paar jaar gelede het ek by ’n kommune buite ’n Vrystaatse dorp gaan inloer waar mense hul eie huise bou, ’n koel binnehof met lopende water as yskas ingerig het om alles koud te hou, ’n kompostoilet prakseer het en genoeg groente en kruie – en later ook vrugte – plant om altyd oorvloed te hê om self te eet en uit te deel.

Ek geniet die TV-aanbieder en avonturier Ben Fogle se besoeke aan mense oor die wêreld heen wat so selfversorgend is. Mense wat eenvoudig leef.

Hulle wat van die gejaag van die lewe ontsnap het en weer saam met die natuur begin leef.

Wat self plant wat hulle wil eet, en dus geen plastiekverpakkings nodig het nie.

Die enigste afval land op die komposhoop, vanwaar dit weer die aarde kan voed.

Ek kan net droom van my eie klein huisie, iewers op ’n hoewe met groot groentetonnels en ’n paar vrolike lêhenne wat oral om die werf kekkel.

You need to be Logged In to leave a comment.