Ryke geskiedenis op gewilde familieplaas voortgesit

Gerhard en Marie Lombard van De Oude Kraal het die algehele bestuur van dié landgoed buite Bloemfontein aan hul dogter Marie-Louise Nel oorhandig.


Gerhard en Marie Lombard van De Oude Kraal het die algehele bestuur van dié landgoed buite Bloemfontein aan hul dogter Marie-Louise Nel oorhandig.

“Dit was vir ons belangrik om goeie opvolgbeplanning te doen en te verseker dat De Oude Kraal in die familie bly,” sê Marie in ’n verklaring wat vandeesweek uitgereik is.

“So wil ons graag nuwe hoogtes bereik en relevant bly in die mark wat ons bedien. Omdat Marie-Louise reeds met die algehele bestuur bekend is en oor deeglike kennis van De Oude Kraal beskik, weet ons sy sal hierdie taak met sukses kan uitvoer. Terselfdertyd koester ons die feit dat sy die sesde geslag is wat die plaas oorneem.”

Die plaas het ’n ryke geskiedenis. Karel Salzman, Marie se oumagrootjie se broer, het die plaas in 1883 gekoop en in 1885 ’n huis gebou. Vandaar was Salzman-, Smit-, Buhrman- en Lombard-vroue aan die stuur – en nou Marie-Louise.

Marie-Louise, ’n gekwalifiseerde prokureur en befaamde sjef, is bevoeg om die leisels oor te neem en verder bande te smee met sakelui wat gereeld by De Oude Kraal kuier en sake doen.

“Ons weet dat Marie-Louise met haar kennis en vars uitkyk nuwe geleenthede sal identifiseer. Sy is reeds opgewonde oor nuwe moontlikhede en verseker ons van opwindende vooruitsigte.”

Marie en Gerhard sal steeds in ’n ondersteunende rol betrokke bly.

  • “Ons bedank ons besoekers en besigheidsvennote wat met die verloop van tyd soos familie geword het, en ons verseker julle van ons toewyding. Die verhouding tussen elkeen van julle en De Oude Kraal sal voortgesit word.” De Oude Kraal se 22ste Wilds­KOSfees word op 4 Junie aangebied. Dié fees is jaarliks een van die hoogtepunte op die Vrystaat se kalender, met uitsoekgeregte waaraan besoekers kan smul. Dié geregte sal boonop saam met wyn van 22 wynlandgoedere geproe kan word. Dit sal ook te koop aangebied word.

Onder andere Herman Kleinhans sal vermaak verskaf.

Spesiale kaartjies teen R950 sal beskikbaar wees vir die proe van fynproewerdisse en bypassende wyn.

Gewone kaartjies, wat wildskos, ander geregte en die proe van wyn insluit, kos R550 vir volwassenes. Kinders 13 tot 17 jaar betaal R250, en ses- tot 12-jariges betaal R150.

Kaartjies is by Daisy & Co. by Prellerplein en Crazy Daisy in Fleurdal Mall beskikbaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.