Saam met Willie Engelbrecht, voorsitter van die Bloemfonteinse Afrikaner-Kultuurraad (tweede van regs) is vanjaar se ontvangers van oorkondes van links Annelien Diedericks, prof. Andries Raath en Leana Lategan.Foto: Lientjie Mentz


Drie Bloemfonteiners is op Donderdag 21 September vereer vir elkeen se eie besondere bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Die oorkondes wat die Bloemfonteinse Afrikaner-Kultuurraad (BAK) jaarliks aan verdienstelike inwoners oorhandig, skep ’n platform waarop die soeklig op individuele uitblinkers gestel word. Die toekennings­geleentheid is in die ouditorium van die Oorlogs­museum van die Boere­republieke aangebied.

Vanjaar se ontvangers is prof. Andries Raath, Leana Lategan en Annelien Diedericks.

Diedericks werk reeds sedert 2015 as museumgeesteswetenskaplike by die Nasionale Afrikaanse Letter­kundige Museum en Navorsingsentrum (Naln).

Sy dien ook as sekretaresse van die Vriende van Naln-vereniging, dien as geregistreerde toergids by Naln en help met die reëlings van tale boekbekendstellings hier.

Die BAK het haar vereer met ’n oorkonde vir die bevordering van die Afrikaanse taal en jarelange bewaring van die Afrikaanse letterkunde.

Lategan, wat ook die gasspreker op die geleentheid was, het in 2020 ná 41 jaar as geesteswetenskaplike by Naln afgetree. Sy doen steeds vryskutwerk.

Sy is deur die BAK vereer vir haar besonderse bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur en die bewaring van die Afrikaanse letterkunde.

Raath, wat sy regstudie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit voltooi het en later ook verskeie ander grade behaal het, waaronder ’n MA- en doktorsgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het oor die jare heen bekend geword vir sy liefde vir navorsing rondom die Anglo-Boereoorlog.

Altesaam 32 boeke oor Christelike wetenskapbeoefening, regsgeleerdheid en die Anglo-Boereoorlog het uit sy pen verskyn.

Boonop het hy meer as 250 artikels in die populêre wetenskaplike media geskryf en was hy te sien in meer as 50 TV-produksies van historiese en kulturele aard.

Die BAK het dit goedgedink om hom te vereer vir sy jarelange bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur deur die skryfwerk oor die geskiedenis en die reg.

You need to be Logged In to leave a comment.