Een van die Bloemfontein Hospice se raakvat-susters gaan dinge van nou af ’n bietjie rustiger vat.
Om vir haar dankie te sê vir jare se harde werk is die sitkamer by die hospice by die Siesta-aftreeoord op ’n geselligheid op Woensdag 11 Januarie na suster Linette Peltzer (82) vernoem.
“Dis ’n besonderse eer,” het Peltzer gesê oor die vertrek wat nou Linette’s Lounge heet.
“Hospice het vir my meer beteken as wat ek vir Hospice kon beteken,” sê sy oor die tydperk sedert 2017 toe Hanneke Lubbe en Joan Marston Bloemfontein Hospice begin het.
Einde 2021 het hul droom om kamers tot pasiënte se beskikking te stel, waar geword – en daar is nou drie kamers en dié sitkamer wat by die Siesta-aftreeoord vir hospies-pasiënte en hul families ingerig is.
Peltzer het in 1958 haar opleiding aan die destydse Verpleegkollege begin nadat sy die vorige jaar aan die Hoërskool Grens in Oos-Londen gematrikuleer het.
Ná haar opleiding het sy by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein gewerk.
“Daar het hulle my in ’n stadium na die onkologie-saal verplaas. Dit was vir my glad nie lekker nie. Die atmosfeer was so bedruk en ek het gedink dit gaan vir my sleg wees om daar te werk.”
Tog het sy ’n groot positiewe invloed gehad. ’n Pasiënt het haar eendag voorgekeer en bedank.
“You are the atmoshere of this place,” het hy vir haar gesê.
“Daarna het ek anders oor onkologie gedink.”
In haar loopbaan het sy talle hoogtes bereik nadat sy verdere studie onderneem het.
Sy was onder meer die eerste getroude hoofmatrone van die Nasionale Hospitaal in die tyd toe dié hospitaal se eeufees gevier het. Die hospitaal is vanjaar 133 jaar oud.
Sy is later as adjunk-hoofverpleegkundige van die Universitas-hospitaal aangestel en toe as adjunkdirekteur van verpleegdienste by Universitas.
Sy het in 2001 afgetree.
Haar man, Sarel, het tydens haar aftrede siek geword en sy het hom tuis versorg toe hy aan Alzheimer se siekte gely het.
“Ek het my voorgeneem dat ek hom nooit in ’n versorgingsoord sou plaas nie, en dit was vir my ’n spesiale tyd toe ek hom versorg het,” sê sy.
Hy is in Mei 2011 oorlede.
“My lewensfilosofie was nog altyd om te leef om vir mense om my en die samelewing terug te gee. Om by hospice betrokke te raak, was vir my ’n besonderse voorreg.”
Sy sê ’n mens raak lief vir die pasiënte en hul families.
“Ons is nie net daar om pasiënte fisiek gemakliker te maaknie, maar ook om hulle emosioneel by te staan met sterwensbegeleiding en ondersteuning.
“Ons doel is om hulle so gemaklik en pynvry moontlik te maak sodat hulle vreedsaam kan sterf.”
- Baie pasiënte word tuis besoek. Lubbe, Bloemfontein Hospice se bestuurder, sê sy en die vrywilligers en susters het verlede jaar 113 pasiënte versorg, met ’n gemiddeld van tien per maand. Van hulle is 73 in 2022 oorlede.
“Die vraag na ons geriewe is regtig groot, en ons beddens bly vol,” sê Lubbe.
“Ons hoop om binnekort ’n vierde kamer in te rig.”