Nee, o gaats! Ek grinnik lekker oor Susan Cilliers se berig op Netwerk24 van vloekery in Afrikaans en Engels.
Volgens prof. Gerhard van Huyssteen maak tweetalige Suid-Afrikaners wat Afrikaans- en Engelssprekend is, die perfekte studiegroep vir mense wat in ’n ander taal vloek, omdat dit glo sagter op die oor val.
Maar voordat ek nou konsternasie veroorsaak oor lelike woorde in ’n rubriek, is dit darem nie al wat lekker links en regs geleen word oor dié tale heen nie.
Afrikaanssprekendes gaps heerlik by hul tweede taal en Engelstalige Suid-Afrikaners kan nie help om hulself mildelik uit Afrikaans se ryk woordeskat te help nie.
Wie kan hulle kwalik neem? Dit is ’n taal wat rym en beskryf en jou meevoer.
Daar is goed wat jy beslis net in Afrikaans wil sê. Want dit is mos lekker om bollemakiesie te slaan en rondomtalie te draai.
Daar is woorde wat ’n mens soms net gebruik omdat dit lekker sê: Kyk daardie groot, grillerige gogga. Hy koekeloer vir my! Voertsek!
Daar is Afrikaanse klanke wat lekker op jou tong rol en agter in jou keel gorrel.
Goetertjies wat jy nie mooi kan beskryf nie en dis goeters, man.
Ek is nou-nou daar. Ek trek net gou my jakkie aan. Dan kuier ons heerlik by die kaggelvuur.
Gryp daar vir jou ’n koeksister en ’n stukkie melktert as jy jou braaivleis klaar geëet het. O, dit is lipleklekker!
As almal klaar is, kan ons maar aanstaltes maak om huiswaarts te keer.
Die meeste kulture is lief vir hul koslekkertes, maar soveel te meer as jy Afrikaans praat.
Daar is sosaties en kaboemielies, bobotie, pannekoek, vetkoek en natuurlik die immergewilde roosterkoek.
Daar is mosbolletjies, gemmerbier en skuinskoek – as jy nie weet wat dit is nie, gaan kuier in die Namakwaland.
Afrikaans is ’n heerlike hutspot van ander tale, wat mettertyd so deel van die taal geword het dat min mense die oorsprong van woorde besef.
Daar is Afrikaanse organisasies met die doel om ons woordeskat uit te brei met woorde wat minder bekend is. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die webwerf afrikaans.com speel al te lekker met woorde soos roesbolling (wanordelik), tonteldoos (spesifieke houertjie, meestal van koper gemaak) en paloeka (onbekwaam of onbehulpe persoon).
Onlangse navorsing het gewys dat meer as 81% van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerlinge in 2021 nie met begrip kon lees nie. Dit plaas ’n onus op ouers om hul kinders se begrip en leesvaardigheid te verbeter.
Met talle Afrikaanse kinderboeke en romans wat gereeld op die rakke verskyn, is daar min verskoning om nie nuwe Afrikaanse woorde te leer nie.
Gelukkig dat Afrikaans in musiek en in die geskrewe woord met passie en oorgawe gedeel word en daar min verskoning is om nie jou moedertaal te lees en te geniet nie.
Lekker man, lekker!