SA-span verdien hul pluimpie

Twee Bloemfonteiners het ’n waardevolle bydrae gelewer om Suid-Afrika tot ’n oorwinning te dra in die spankompetisie tydens die Uber Cup-pluimbaltoernooi in Kaïro van 13 tot 18 Februarie.


Twee Bloemfonteiners het ’n waardevolle bydrae gelewer om Suid-Afrika tot ’n oorwinning te dra in die spankompetisie tydens die Uber Cup-pluimbaltoernooi in Kaïro van 13 tot 18 Februarie.

Tot sowat tien jaar gelede het Suid-Afrika pluimbal in Afrika oorheers en die meeste van die kontinentale spantitels gewen.

Daar is drie sulke kontinentale kompetisie vir spanne – die Suderman, die Thomas Cup en die Uber Cup.

Suid-Afrika se vroue, met veral Nita Scholtz-Albertse, het individueel baie titels gewen die afgelope dekade, maar die Uber Cup is die span-toernooi wat Suid-Afrika laas in 2012 gewen het waarop Suid-Afrika die langste laas gewen het, in 2012, dus 12 jaar laas.

Die meisies in die nasionale span waarvan Nita en Megan de Beer van Bloemfontein deel gevorm het, het hard gespook om die titel terug in Suid-Afrika te kry.

In die groepwedstryde het hulle goed begin om vir Kameroen met 5-0 te verslaan, maar moes hard spook om vir Algerië en ook Mauritius met 3-2 elk te troef om te kwalifiseer vir die semi-finale waar Nigerië op hulle gewag het.

Weer het hulle ’n 3-2 oorwinning gesmaak. Albei die dubbelspel-wedstryde was drie stel-oorwinnings, maar dit was genoeg om vir die finale wedstryde te kwalifiseer waar Uganda op hulle gewag het.

Die finale het nie goed begin nie deurdat Suid-Afrika 2-0 agter was toe Nita die baan betree het teen een van haar groot mededingers vir die Olimpiese kwalifiseringsplek.

Nita het die terugvegpoging begin om vir Fadillah Rafi van Uganda met 21-11, 21-14 te verslaan en nadat die ander twee Suid-Afrikaners Deidre Laurens en Amy Ackerman hul dubbelspel gewen het, was dit Nita en Megan se verant­woordelikheid om te verseker die Afrika-vrouespantitel na Suid-Afrika toe kom.

Dit was ’n wipplank-wedstryd, maar die Bloemfonteiners het heeltyd hul neuse voor gekry en gehou om met 21-13, 21-18 te wen.

Hopelik hou dit weer ’n tydperk in waar die Suid-Afrikaanse vroue Afrika gaan lei.

Behalwe vir die maklike wedstryd teen Kameroen het hulle elke wedstryd met 3–2 gewen, ’n getuigskrif van hul veggees.

Hierdie wen laat die Suid-Afrikaanse span ook kwalifiseer vir die Uber Cup-finale aan die einde van April in China, maar voor dan lê nog heelwat toernooie voor.

Vir nou is die Afrika Spele wat oor twee weke in Ghana begin, die belangrikste. Verskeie sportkodes vorm deel van dié skouspel van sport.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.