SA spelers ding mee op wêreldverhoog

Toptennisspelers trek van Vrydag (03/02) af in Bloemfontein byeen vir die Internasionale Tennisfederasie (ITF) se junior internasionale tennisreeks wat tot 17 Februarie aangebied word.


Toptennisspelers trek van Vrydag (03/02) af in Bloemfontein byeen vir die Internasionale Tennisfederasie (ITF) se junior internasionale tennisreeks wat tot 17 Februarie aangebied word.

Die kwalifiserende wedstryde vir die seuns en meisies sal op die bane van die Vrystaat-tennisstadion plaasvind.

MC Olivier, Cepha-tennis se toernooidirekteur, sê danksy die sukses van dié tennistoernooi verlede jaar is die toernooi vanjaar hoër gegradeer.

“Die twee toernooie is van gr. 5-toernooie na onderskeidelik gr. 4- en gr. 3-toernooie aangepas. Die toernooi is dus van ’n hoër kaliber. Ons behoort kinders onder die 100 topspelers in die wêreld te kry wat hier gaan kom deelneem.”

Die eerste van die twee toernooie aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Cepha, begin Vrydag en die finale wedstryde word op 10 Februarie beslis.

Die tweede toernooi se inskrywings open op 10 Februarie en die laaste wedstryde word op 17 Februarie gespeel.

Spelers van onder meer Israel, Frankryk, Finland, Portugal, Indië, Kanada, Duitsland, Hongkong en Australië word verwag.

Olivier sê dit is ’n groot eer om hierdie internasionale toernooie aan te bied. “Dit bied aan plaaslike spelers die geleentheid om teen spelers van ’n hoë standaard plaaslik mee te ding en hulle te meet teen die beste spelers van oor die wêreld heen.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.