Bloemfonteiner Lynette Fischer het die titels in biathle en triathle wat sy in 2021 in Wieden, Duitsland, in die meestersafdeling verwerf het, suksesvol verdedig en vanjaar vier goue medaljes op die biathle- en triathle-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Portugal verower.
Op die byeenkoms, wat van 27 tot 30 Oktober in Machico op die eiland Madeira gehou is, het sy goud gewen in die individuele biathle-kompetisie, asook in die individuele triathle-kompetisie; in die gemengde biathle-aflos met spanmaat Carl de Wet van Johannesburg; en in die triathle-spankompetisie saam met spanmaat Johan Windt van Mosselbaai.
Lynette, deesdae die Cheetahs se fiksheid- en prestasie-afrigter, is ingesluit in die span wat aan die Union Internationale de Pentathlon Moderne (UIPM) se biathle en triathle-kampioenskap deelgeneem het, ná deelname aan die nasionale federasie se kampioenskap vroeër vanjaar. Ongeveer 650 atlete uit 31 lande het aan die internasionale kampioenskap deelgeneem.
Lynette neem al van jongs af aan die biathle-wêreldkampioenskap deel en het al vantevore die biathle en triathle-wêreldkampioenskap gewen.
Nog twee Bloemfonteiners het medaljes verower.
Gail Potgieter het goud in die gekombineerde spankompetisie in die afdeling vir senior vroue gewen.
Danielle Joubert van die Hoër Meisieskool Oranje was as o.19-deelnemer derde in die triathle en het ook goud in die spankompetisie verower.
Danielle het in September ook medaljes op die laserwedloop-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Lissabon gewen.
- Die individuele biathle-kompetisie bestaan uit skofte van hardloop, swem en hardloop, terwyl die individuele triathle-kompetisie teikenskiet, swem en hardloop behels.