Bloemfonteiners kan lekker saam sokkie wanneer Nicholis Louw sy gewildste liedjies in die stad kom sing.
Dié Afrikaanse sanger, wat op Vrydag 25 Julie hier optree, is al twee dekades lank op die Suid-Afrikaanse musiektoneel. Met sy energieke pop-rock-styl en treffers soos “Rock daai Lyfie,” “Generaal” en “Maia Hee” het hy ‘n blywende indruk gemaak.

Nicholis verras aanhangers steeds met vars musiek. Van sy nuwe liedjies is “Ons sal jonk bly,” “Sandkasteel,” “Werfbobbejaan,” “Oents oents oents” en nuwe snit “Radio”.
Net voor sy vertoning in Bloemfontein word se nuutste liedjie vrygestel, op 18 Julie. Aanhangers kan hom op sosialemediaplatforms volg vir inligting en die nuutste musiek.
Risna Opperman, eienaar van Urth, waar die vertoning die Vrydag aangebied word, sê die span is opgewonde om vir besoekers ‘n opwindende aand aan te bied.
“Nicholis se energieke musiek leen dit daartoe om lekker te sokkie, en ons sal seker maak dat daar genoeg dansplek beskikbaar is,” sê sy.
Nicholis is van 19:30 af op die verhoog. Kos en drinkgoed sal van 17:30 af verkoop word.
Kaartjies kos R200, hoërskoolleerlinge betaal R100 en jonger kinders kry toegang vir R20. Koop aanlyn by urth.co.za.
Kaartjies sal wel by die deure beskikbaar wees as daar nog plek, teen R230.
Die wenner van twee kaartjies is Christelle van Rooyen.



You must be logged in to post a comment.