In die middel van die mooiste maand, volgens C. Louis Leipoldt, staan ’n groep motorfietsryers in gelid by die Pitstop-diensstasie noord van Bloemfontein. Dit is vroegoggend en die energie tussen die ryers is tasbaar. Daar is ’n verskeidenheid fietse; Honda, BMW, Suzuki en selfs ’n verdwaalde Harley Davidson wat onderlangs brom-brom.
Die embleme op die baadjies is van verskillende motorfietsklubs. Dalk nie so opvallend vir Jan Alleman nie, maar die ingewyde sal wonder oor die vreemde sin van samehorigheid.
Dit was my aangename voorreg om saam met hierdie groep uiteenlopende mense vir ’n langnaweek na Fouriesburg te ry. Gelowiges uit verskillende Christen-klubs van Bloemfontein.
Dit was past. Wimpie Burger van die Bloemfontein Biker’s Church se gedagte-vrug om eenkeer per jaar so bymekaar te kom. Deels om aan die Here eer te gee en andersyds om die motorfietsgemeenskap van Suid-Afrika te herenig. Nes ons nasie is laasgenoemde geensins bekend vir sy saamstaan-vaardighede nie. Sit ’n paar hardgebakte petrolkoppe bymekaar en jy sien hoe die vonke spat.
Dis nou eenmaal so – waar die duiwel sy vuil kloue inslaan, is daar onenigheid. Mense twis oor onbenullighede soos die logo op ’n T-hemp of die soort koffie by die klub. Die liedere wat ons in die kerk moet sing of nié sing nie. Hoekom? Want dan fokus mense op die twispunt en nie op Jesus nie.
Ek het lanklaas ’n naweek so terdeë geniet. Die groep van 42 het sterk en uiteenlopende persoonlikhede. Hulle beklee beroepe in verskeie sektore en kom uit verskillende kerkgroepe in die stad, met ’n eie mening oor die land se politiek, die Covid-inenting en, natuurlik, oor motorfietse.
Die reeds genoemde ten spyt, was daar géén onenigheid nie. Selfs nie eens oor wie die beste motorfietsfabrikaat ry nie.
In stede van fokus op die verskille, het ons soggens nagmaal gehou en ons oë op Jesus gerig. ’n Paar dapper groeplede het hul persoonlike getuienis gelewer. Saans het ons saam gekuier en oor elke onderwerp onder die son gesels. Hierdie samesyn het bande van eenheid om die groep gespan.
Op ou Suid-Afrikaanse muntstukke was die woorde “Eendrag maak mag” ingeëts. Dit maak nou eers vir my sin. Daar is soveel krag in eenheid.
Soos toe die Springbokke die Webb Ellis-trofee vir die vierde keer huis toe bring. Hulle het die volk herenig deur die wêreld ’n punt te bewys. Toe die beker omhoog gelig word, skuif alle fokus op die blinkgepoetste trofee. Dit gee hoop vir die toekoms. Op die lughawe omhels die aanhangers mekaar, sing saam met Leon Schuster: “Hier kom die Bokke!” Trane van blydskap wat vloei oor die sege en ’n toekomsverwagting.
Ek stel my voor hoe die hele nasie hul oë op Jesus rig. Ons volk gevul met hoop. Ons vat hande, help mekaar op en sê: “Ek bid vir jou. Mag God ons help om saam te staan.”
Ons fokus verskuif vanaf die verskille en opwaarts na die blink Môrester. Geen mensgemaakte objek, maar die Bron van ons hoop.