’n Sagmoedige pitbull het homself as goeie beskermer bewys toe hy inbrekers uit ’n huis in Langenhovenpark in Bloemfontein verjaag het.
Alda Fourie sê Tyson is nou sowat drie en ’n half jaar oud en hy is die sagmoedigste hond.
“Hy het glad nie die geaardheid van ’n pitbull waarvan ’n mens so baie hoor nie. Soveel so, dat ons al gewonder het of hy ons sal beskerm as dit daarop neerkom.”
Sondagoggend (06/08) vroeg het hulle wakker geword met Tyson wat aanhoudend blaf.
“Dit was nie sy gewone blaf nie en ons het bekommerd geraak en gaan ondersoek instel.”
Hulle ontdek toe daar was ’n inbraak in hul motorhuis waar die vrieskas met vleis is.
“Tyson het die boef met ’n koelhouer vol van ons vleis gejaag en dié het oor die muur gespring sonder sy buit. Toe ons by hom kom, sit Tyson so ewe by die heining met die koelhouer vol gevriesde vleis langs hom.”
“Ons is net bly dat ons – en die boewe – lig daarvan afgekom het.”