Die De Oude Kraal WildsKOSfees het vanjaar oudergewoonte groot pret, puik fynproewersgeregte en wyn van die boonste rak vir feesgangers gebied.
Meer as 1 800 mense is Saterdag deur die hekke van die De Oude Kraal-landgoed buite Bloemfontein om die 24ste WildsKOSfees op dié Vrystaatse plaas by te woon.
Dodo Nyoka, wat mense gaande gehad het in die tweede reeks van Die kontrak, het opgetree. Nyoka, wat oorspronklik van Gauteng is, sê die Vrystaat is een van sy gunsteling-plekke om op te tree, en die WildsKOSfees was geen uitsondering nie.
“Die Here woon hier in die Vrystaat. ’n Mens kom dit agter wanneer ’n mens hier inry, met die mense hier praat en vir hulle optree,” het Nyoka gesê.
“Dit is ’n warm en hartlike plek.”
Marie Lombard, eienaar van De Oude Kraal en voorslag-sjef, sê sy is baie dankbaar om sover nog net goeie terugvoering van feesgangers te ontvang.
“Niemand het êrens in rye gewag om wyn of kos te proe nie, almal se terugvoering is regtig baie positief. Ons wou gehad het die fees moes vlot verloop.”
Die Marie-Louise-wyntuin was vanjaar ’n nuwe toevoeging tot die fees.
Met dié tuin bring hulle hulde aan Lombard se dogter, Marie-Louise Nel, wat verlede jaar oorlede is. By dié tuin kon feesgangers jazz-musiek geniet en is daar tot laatnag saam gekuier.
BloemNuus is die gedruktemediaborg van vanjaar se WildsKOSfees.