Danksy brandbestryders is ’n ramp voorkom nadat die grasdak van ’n bekende kuierplek in Bloemfontein aan die brand geslaan het.
The Staffy in Spitskop is reeds weer oop nadat ’n brand op 25 November daar uitgebreek het.
Die AfriForum-brandweerdiens in samewerking met Fire Ops SA het om 16:04 gereageer op ’n noodroep en was binne twee minute op die toneel.
Met hul aankoms by die kuierplek, was daar baie rook en vlamme wat uit die dak uit geborrel het.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, sê danksy vinnige kommunikasie en samewerking tussen Fire Ops SA en die Mangaung-brandweer, kon voorkom word dat die brand na ander dele van die gebou versprei.
“Ons is trots daarop om te sien hoe ons noue samewerking met Mangaung-brandweer ’n verskil gemaak het,” sê Groenewald.
“Ons bedank elkeen wat betrokke was by die blus van die brand en verseker het dat verdere skade beperk is.”
Groenewald sê die vinnige reaksie het nie net gehelp om ’n moontlike ramp te voorkom nie, maar ook die invloed op die restaurant en omliggende strukture tot die minimum beperk.