Danksy uitsonderlike werk deur die gemeenskap en private sekuriteitsfirmas in Bloemfontein is verdagtes in verband met die diefstal van watermeters en ’n hekmotor in hegtenis geneem.
Volgens Bloemsec is ’n verdagte voertuig Sondag (28/08) by College Square gewaar, en een verdagte wat in besit was van ’n vermoedelik gesteelde hekmotor is in hegtenis geneem. ’n Saak is by die Bayswater-polisiekantoor ingedien.
Vyf munisipale watermeters wat by huise gesteel is, is ook opgespoor en ’n verdagte is deur die polisie in hegtenis geneem.
National Crime Assist (NCA) waarsku inwoners van veral meenthuiskomplekse om hul motorhuise (motorhuisdeure en toegangsdeure) te alle tye gesluit te hou.
Herman Lombard van NCA sê die steel van hekmotors is ’n voortdurende probleem in Bloemfontein. Hy sê daar is ’n sindikaat wat skandeertoestelle gebruik waarmee hulle die hekmotors se kodes kry.
“Hulle haal ’n hekmotor binne sekondes uit en verdwyn dan daarmee.”