Hendrik Hattingh op die nuwe motorfiets wat hy gekoop het nadat sy Honda 125 Donderdag voor sy woonstel in Walter Sisuluweg gesteel is. Saam met hom is Tiaan Snyman (links, Senforce) en Ricus Slabbert (Bloemsec). Regs: Fyngemaalde polonie wat met gif gemeng is aan ’n heining van ’n huis waar diewe honde vergiftig en dan motorfietse gesteel het.Foto’s: Lientjie Mentz/verskaf


In ’n deurbraak in die vlaag van misdaad waarin motorfietse by huise in Wilgehof, Gardeniapark en Universitas gesteel en honde vergiftig is, is twee verdagtes in die vroeë oggendure van Dindsdag en Woensdag deur veiligheidspersoneel in hegtenis geneem.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 44 en 39 jaar oud, sal vandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Dit kom nadat vyf motorfietse die afgelope maand in dié omgewing, dikwels naby die spoorlyn, snags gesteel is. Sowat agt honde is dood nadat hulle glo deur die diewe vergiftig is.

Tiaan Snyman van Senforce, wat vroeër vanjaar ’n eerbewys by die De FleurSig-woonbuurtvereniging gekry het vir sy bydrae om misdaad te bekamp, het die eerste verdagte op Dinsdag 29 Oktober kort voor 01:00 in Kommandant Erweestraat in Wilgehof aangekeer.

Nog ’n verdagte is Woensdag om 01:20 deur personeel van Senforce, Tracker, die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) en lede van die polisie se blitspatrollie in Fase 10, Bloemspruit, aangekeer nadat hulle inligting opgevolg het.

Jeandré Swarts van Senforce sê twee motorfietse, een wat in Ryno Krielstraat in Universitas gesteel is en een van Walter Sisuluweg, is teruggevind.

“Ons het ’n tweede verdagte in hegtenis geneem wat danksy video-opnames en die klere wat hy aangehad het, met die saak verbind kan word.”

In die eerste diefstal die afgelope tyd, op 16 September by Montgomerystraat 30, is twee motorfietse in die vroeë oggendure gesteel, en twee honde – ’n Duitse herdershond, Omega, en Yorkshire terriër, Chase – vergiftig.

Samantha Cilliers van die huis waar die diefstal plaasgevind het, sê hul ander Duitse herdershond was agter die huis tydens die voorval. Toe sy die oggend opstaan, het sy gesien die seil waaronder hul motorfiets voor hul kamervenster geparkeer was, lê op die grond.

“Die honde het dood daar gelê. Ek is baie bitter oor wat hulle aan die honde gedoen het.”

Rikus Slabbert van Bloemsec sê veiligheidsondernemings in die stad werk die afgelope maand onverpoos om die misdadigers aan te keer.

“Ons het op sekuriteitskameras gesien hoe hulle werk. Hulle kry eers toegang tot die erf deur slotte oop te knip en gooi vir die honde polonie wat saam met ’n soort gif fyngemaak is. Hulle gaan dan uit en wag totdat die honde dood is, voordat hulle teruggaan en die motorfietse by die erf uitstoot.”

Ook Hendrik Hattingh van Walter Sisuluweg het deurgeloop toe sy Honda 125 op Donderdag 24 Oktober om 02:00 gesteel is.

“My bure in die woonstel agter my het wakker geword en glo gesien hoe iemand my motorfiets uit die erf stoot. Hulle het aangeneem dit is ek omdat ek ook altyd die motorfiets uitstoot voordat ek dit in die straat aanskakel.”

Hy sê die inwoners van die hoofhuis se hond het die oggend uitgekom en siek geword van iets wat hy geëet het, maar hulle het hom veearts toe geneem en die hond het oorleef. Die bure langs hulle se honde is glo met die polonie-mengsel vergiftig en is dood.

Hattingh het intussen vir hom ’n nuwe motorfiets gekoop.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig dat ’n verdagte (44) deur verskeie veiligheidsondernemings aangekeer is en aan die polisie uitgelewer is.

Snyman sê hy was Dinsdag net voor 01:00 op patrollie toe hy ’n verdagte in Kommandant Erweestraat in Wilgehof sien.

“Ek het hulp ingeroep en verskeie veiligheidsondernemings het in die omgewing bystand kom verleen. Ons het met behulp van die gemeenskapspolisiëringsforum se kringtelevisie-kameras in dié straat gesien waar die verdagte met ’n voetpad in die veld langs die spoorlyn gevlug het.”

Snyman het die verdagte daar in die veld gekry, en die polisie het die verdagte daarna in hegtenis geneem.

“Die verdagte het van die fyngemaalde poloniemengsel waarmee die honde vergiftig word, by hom gehad.”

Die saak word nou deur die Parkweg-polisie ondersoek.

Betrokkenes wat gehelp het, is: Senforce, die FWA, Fidilety ADT, GPF Sektor 3 en Bloemsec.

You need to be Logged In to leave a comment.