Die sangpaar Francois en Elizabeth Fourie kuier op Sondag 13 April by Westerbloem.
Dié sangpaar, met meer as 35 jaar se ervaring in die musiekbedryf, het ‘n storie om te vertel. Dit begin met ‘n goue treffer, “Wil jy dans Carina?”, wat hulle in die vroeë 1990’s oornag op die Afrikaanse musiektoneel gevestig het.
Francois en Elizabeth, met hul welbekende Afrikaanse duet-klank en sprankel op die verhoog, is immergeliefd.
Die sangpaar het besluit dat 2025 die jaar is om landswyd te toer en op so ‘n manier die kringloop van hul musiekloopbaan te voltooi.
Om daarmee saam te val, is ‘n optrede in Bloemfontein gereël op Palm Sondag, om 15:00 in die Westerbloem-saal.
‘n Vriend van baie jare, veteraansanger en komediant Hennie Smit, sal as gaskunstenaar deel wees van die nostalgiese optrede. Die Fouries en Hennie deel besonderse herinneringe van konserttoere en hoogtepunt-optredes by vele kerke, skole en vakansieoorde – ook destyds by Hartenbos, waar Hennie die organiseerder van die Desembervakansie-vermaaklikheidsprogram was.
“Ons is regtig opgewonde om op hierdie spesiale dag in Bloemfontein weer die verhoog te kan deel met iemand soos Hennie.
“Hennie is veel meer as net die komediant waarvoor hy bekend is – niemand moet sy bydrae tot Afrikaanse musiek en sy diep-gelowige opregtheid miskyk nie,” sê Elizabeth.
Laat die fees begin! is saamgestel uit ‘n verskeidenheid van goue treffers, inspirerende liedere en gevoelsverse vir die Paastyd. Konsertgangers kan hulle verlustig in die blydskap van musiek en die boodskap wat die Paastyd inhou. In die gees van Paasfees word kaartjies nie verkoop nie. Slegs ‘n sagte kollekte word opgeneem ten bate van Engo se bejaardesorgsentrum, wat die optrede moontlik maak en die geriewe beskikbaar stel.
Rig navrae aan Hester Bloem van Engo by 051 497 7203 of 082 926 8097.