’n Oudleerling van Grey-kollege het begin om sy stempel af te druk op die musiekbedryf, en droom groot oor die toekoms.

Wiesner Hechter se debuut-enkelsnit “Mia, jy” is ’n energieke liedjie met ’n vars perspektief op die einde van ’n verhouding.

Sedert skool het hy deelgeneem aan musiek, en klavier en kitaar gespeel. Hy was ook deel van die skool se boereorkes en die marimba-orkes.

Ná matriek in 2020 en tydens sy studie in ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het daar ’n nuwe wêreld van moontlikhede oopgegaan.

Wiesner vertel sy eerste enkelsnit het ontstaan ná ’n uitdaging om ’n treffende lied met ’n meisie se naam in die titel te skryf.

“Ek kon nie dink aan ’n meisienaam wat kon werk nie, maar ’n vriend van my se woonstelmaat op Stellenbosch se hond se naam is Mia. Toe ek die hond se naam hoor, het ek sommer die naam van my liedjie gehad.”

Hy het saam met MJ Nel van The Hit Lab Studio gewerk om die enkelsnit op te neem.

Sy tweede liedjie “Ver van die huis af” is klaar geskryf en hy hoop om teen die einde van die jaar so sewe of agt liedjies gereed te hê vir ’n album.

Wiesner geniet Afrikaanse musiek wat wegbreek van die tipiese kommersiële liedjies. Dit is musiek van groepe soos Spoegwolf, Zaan Sonnekus en die Heuwels Fantasties wat hom inspireer.

Hy het selfs onlangs voor ’n vertoning van Spoegwolf opgetree en al vertonings in Pretoria en by die Oktoberfest in Potchefstroom gelewer.

Hy sê dit is vir hom lekker om die musiek te skryf, maar dit is optredes wat hy die meeste geniet.

Wiesner se beplanning is om so tussen die studies te reis en sy musiek met meer gehore te deel. Sommer lekker vooruit-sigte vir dié man met sy passie vir die lewe en musiek.

You need to be Logged In to leave a comment.