Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Dinsdag (01/08) 800 nuwe konstabels op ’n seremonie op Bobbiespark in Bloemfontein verwelkom.
Die konstabels gaan dien as versterking van die polisiediens in die Vrystaat.
Lt Genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse kommissaris, het op die parade gesê die nuwe konstabels gaan ’n groot bydrae lewer om die polisie te versterk sodat misdaad in die provinsie beveg kan word.
Sy sê die aanstelling van bykomende vroue en mans tot die polisiediens is in oproep van pres. Cyril Ramaphosa tydens verlede jaar se staatsrede dat meer polisiebeamptes opgelei en aangestel word.
Motsenyane sê die nuwe konstabels is oor ’n tydperk van nege maande in verskeie akademies oor die land heen in basiese vaardighede opgelei.
Tydens die geleentheid het die polisie ook Operasie Shanela amptelik bekend gestel.
Die nasionale aankondiging van Operasie Shanela, ’n multi-dissiplinêre, intelligensie-gedrewe, hoë-digtheidsmisdaadoperasie, het op 15 Julie in Soweto plaasgevind.
Sedertdien het die Vrystaatse polisie al verskeie suksesse met hierdie operasie behaal.
Vir die sewe dae voor Maandag (31/07) is altesaam 1 210 verdagtes vir verskillende misdrywe in hegtenis geneem.
Dit sluit in 18 verdagtes vir roof, drie vir moord en 13 vir poging tot moord.
Ses verdagtes is in hegtenis geneem op klagte van verkragting en 128 vir aanranding met die doel om ernstig te beseer. Verder is 34 verdagtes in hegtenis geneem vir inbraak en 88 vir die besit van dwelms of die handel in dwelms.
Ook 129 onwettige immigrante is in hegtenis geneem, terwyl 468 verdagtes waarna die polisie op soek was, ook in hegtenis geneem is.
In die provinsie is 61 motorbestuurders wat onder die invloed van drank of ander middels was, in hegtenis geneem.
Motswenyane sê in ’n nuusverklaring een van die suksesse was toe ’n 26 jarige man van Thabong, Mokwantsi Kwanele Mfuku, 15 jaar tronkstraf opgelê is vir die beskadiging van infrastruktuur nadat hy ’n 12 m lange koperkabel van Eskom gesteel het terwyl werkers herstelwerk aan die elektriese infrastruktuur daar gedoen het.
Sy sê lede van die polisie lê veral baie klem op die bestryding van dwelmverwante handel in die provinsie.
“Die polisie sal voortgaan om druk toe te pas. Dit geld ook vir ander kriminele elemente in die provinsie.”