Private veiligheidsmaatskappye en ander instellings is opgewonde oor die hand wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Mangaung-metro na hulle uitgesteek het.
Op ’n vergadering van betrokkenes in die private veiligheidsektor Vrydag (09/06) by die Mangaung-polisiekantoor het distrikspolisiekommissaris genl.maj. Arthur Peter Adams gesê dit is vir die SAPD belangrik om met die private sektor saam te werk.
“Die polisie het nog nie ten volle die belangrikheid van samewerking met die private sektor erken nie. Dit is belangrik dat daar ’n geïntegreerde, holistiese en soomlose verhouding tussen die openbare en private veiligheidsektore is,” het hy gesê.
Adams het verwys na onlangse suksesse waarin die Bloemfonteinse polisie misdaad met die hulp van veiligheidsondernemings en boere bekamp het.
Een so ’n geval is die bomaanval in April op ’n outomatiese tellermasjien (OTM) in Oos-Einde, waarin ’n lid van ’n private veiligheidsonderneming gewond is.
“Danksy hom is die misdadigers, wat nie vinnige optrede van die plaaslike polisie verwag het nie, se planne deurmekaargekrap.”
Adams sê die personeel van veiligheidsondernemings is heel dikwels eerste op ’n misdaadtoneel en verleen ook hulp op ongelukstonele.
Hy het verder na die transitorooftog in Mei in Oos-Einde verwys – toe ’n geweer wat in die aanval gebruik is, opgespoor is deur die private sektor se tegnologie in te span. Die verdagtes is ná die rooftog in hegtenis geneem.
Adams het verwys na die voordele wat vir die polisie daarin lê om toegang na gevorderde tegnologie van vennote in die private sektor te hê.
Verder het hy verwys na boere wat met hul kringtelevisiekameras gehelp het om smokkelroetes van voertuie wat oor die grens na Lesotho geneem is te identifiseer en dié misdaad so te bekamp.
Adams sê een van die groot kwessies waarmee die polisie in Bloemfontein nou te doen het, is dat die studente in Universitas en omgewing deur misdaad geteister word.
“Tot nou toe was die polisie se sukses in die distrik gefragmenteer. Saam met die private sektor kan ons ’n plan maak om misdaad beter te beveg.”
Joseph Renaud, veiligheidspesialis vir AfriForum in die sentrale streek, sê dié organisasie se tegnologie is beskikbaar waar dit die polisie kan help.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, is positief oor die belofte van samewerking.
“Sodanige samewerking sal ’n direkte positiewe trefkrag teen misdaad hê. Samewerking met verskeie veiligheidstrukture sal die veiligheid van ons gemeenskap bevorder.
“Ons sal voortbou op verhoudings om misdadigers suksesvol in hegtenis te laat neem en strafregtelik te laat vervolg.”
AfriForum se hommeltuig is al dikwels in polisie-optrede aangewend.
Herman Lombard, nasionale woordvoerder vir National Crime Assist (NCA), het op die vergadering gesê dit is ’n pro-aktiewe stap van die polisie om sy hand na die private sektor uit te steek om misdaad beter te bekamp.