Die sonkragvoertuig Lengau van die Universiteit van die Vrystaat (UV) toe die Sasol-sonkraguitdaging se spanne op 11 September uit Bloemfontein vertrek. Foto: Verskaf


Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Lengau het bo verwagting goed gevaar in die Sasol-sonkraguitdaging wat Vrydag (16/09) in Kaapstad voltooi is.

Die UV-span het die eerbewys vir navigasie tydens die uitdaging gekry.

Dr. Hendrik van Heerden, span­leier, het Vrydag uit Riversdal gesê dié span het bo verwagting goed gevaar.

Dit was een van nege spanne wat op 9 September uit Johannesburg vertrek het om vas te stel wie die meeste kilometers tot in Kaapstad kon aflê.

Die roete van ongeveer 2 300 km het oor Kroonstad, Bloemfontein, Gariepdam, Graaff-Reinet, Jeffreysbaai en Riversdal tot in die Kaap gestrek. Deelnemers het deur vyf provinsies en 18 dorpe beweeg, waar onder meer skole besoek is. Op verskeie plekke was daar geleentheid om meer kilometers by die roete te voeg.

Robert Walker, eienaar en direkteur van die uitdaging, sê dit was ’n baie suksesvolle week.

“Dit was opwindend om uiteindelik weer op die pad te wees, ná die onderbreking weens Covid-19.”

Die uitdaging wat spanne se sonkragvoertuie tot die uiterste toets, is vanjaar die 14de keer aangebied nadat die reëlings vir 2020 in die wiele gery is.

Walker sê hulle het gehoop dat meer spanne vanjaar sou deelneem, maar operasionele uitdagings en die tekort aan onderdele het sommige internasionale spanne se planne omvergewerp.

Die Brunel-sonkragspan uit Nederland het die uitdaging met 4 228,2 km gewen, met die Agoria-span van België in die tweede plek met 4 189,9 km.

Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se span was die beste Suid-Afrikaanse deelnemer en was algeheel derde met ’n afstand van 2 682,4 km.

Die span van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n eerbewys vir strukturele ontwerp gekry. Die span het 2 430,2 km afgelê.

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het weer die eerbewys vir gemeenskapsbetrokkenheid gekry. Dié span moes hom weens tegniese probleme van die uitdaging onttrek.

Van Heerden sê die UV-span, wat vanjaar ’n eerste keer deelgeneem het, het beplan om sowat 300 km af te lê. Hulle het eindelik 521,2 km afgelê.

Die grootste afstand wat hulle op een dag afgelê het, is 117 km.

“Hierdie uitdaging is vir die studente van onskatbare waarde,” het Van Heerden gesê.

“Ek kon sien hoe hulle as mense ontwikkel, en hulle het met goeie oplossings vir probleme vorendag gekom.”

Hy sê die navigasie-eerbewys was bestem vir die span wat die beste gespesifiseerde roete gevolg het en die minste vrae of probleme met die roete ervaar het.

Elton Fortuin, visepresident van groepskommunikasie van Sasol, het op die afsluitingsgeselligheid in Kaapstad gesê die doel met die Sasol-sonkraguitdaging is om die jeug bloot te stel aan alternatiewe energie-innovering deur praktiese ondervinding.

You need to be Logged In to leave a comment.