Relebohile Maphasa, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) in die Vrystaat. Foto: Verskaf


Kaarte van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) of Posbank- goue kaarte wat reeds verval het, is nog tot 31 Desember 2023 geldig.

Relebohile Maphasa, woordvoorder vir Sassa, sê ontvangers van maatskaplike toelae kan voortgaan om transaksies by outomatiese tellermasjiene of deel­nemende handelaars te doen, al toon die datum op hul kaart dat dit reeds verval het.

Sy sê ontvangers kan ook steeds die kaartlose stelsel gebruik deur geld by deelnemende handelaars soos Checkers, Shoprite, USave, OK, Pick n Pay, Boxer en Spar te trek. Vir die kaartlose diens moet ontvangers ’n selfoon, ID-nommer en geheime nommer (PIN) vir die kaart wat verval het, saamneem.

Maphasa sê ontvangers van maatskaplike toelae kan dit ook in hul persoonlike bankrekening ontvang.

Sy sê Sassa wag nog vir inligting oor of die Posbank nuwe kaarte gaan uitreik of nie.

“Sassa het nie amptenare na gemeenskappe toe gestuur nie,” bevestig sy nadat lesers daaroor navraag gedoen het.

“Ontvangers van toelae moet op hul hoede wees vir mense wat hulle as Sassa-amptenare voordoen en sodoende huise wil betree, of mense wat vals inligting oor Sassa gee.

“Mense wat veranderinge wil aanbring of hul metode van betaling wil verander, moet dit by die plaaslike Sassa-kantoor laat doen.”

Maphasa sê mense wat hul Sassa-betaling in hul persoonlike bankrekening wil ontvang en dit nog nie só gereël het nie, moet na die kantoor gaan met die volgende: ’n bankbrief wat hul rekeningnommer bevestig; die vorm wat hulle by Sassa se kantoor kan kry, of van die webwerf kan aflaai, waarop daar geskrewe staan “Request for Bank Payment Form”; asook hul identiteitsdokument (ID).

Om ontvangers van maatskaplike toelae te help, is Sassa-kantore nou met verlengde ure van Maandae tot Vrydae van 07:30 tot 18:00 oop.

Die Bloemfonteinse Sassa-kantoor is in Fonteinstraat in die middestad.

You need to be Logged In to leave a comment.