Sê ABC maar vir eers op met ’n stem wat bewe

“B” is vir bibber, behoort alle Bloemfonteinse kleuters sommer van meet af aan te leer.


“B” is vir bibber, behoort alle Bloemfonteinse kleuters sommer van meet af aan te leer.

In dié stad se alfabet lê die letter knus tussen “A” vir Augustuswind en “C” vir Curielaan – en hy klink nie só, “bee” nie; eerder “bu” soos in behoorlik.

Hoor net hoe die klank opsigself, berekend, die eg Bloemfonteinse gebibber beliggaam.

Lig jy die afgelope tyd teen sononder jou aandag net so ’n effense entjie bo straatvlak, sien jy hoe die stads­mense so hard probeer warm bly dat die rook draai. Kiertsregop kaggelskoorstene stuur hul seine die lug in terwyl die vuurtjies lustig binne die huise brand. Al te gesellig. Vertroostend. Snoesig.

Hout brand is nie net meer vir die naweke en vleisbraai nie.

Terloops, en juis: Snoesig is nie ’n woord wat ’n mens sou dink op enigiets anders as knusheid en warmte kan dui nie. Snoesig is vir aantrek of vir toewikkel, voel ons mos.

Tog, laat hierdie woordeboek-beskrywing jou verras: “Lief, skattig, oulik, fraai. ’n Snoesige baba, skoothondjie.”

Eindelik! ’n Perfekte verklaring vir daardie warm gevoel in ’n mens se binneste wanneer so ’n lieftallige dingetjie in ’n mens se hart kruip.

Ook, dit bied dalk ’n heel alternatiewe teenvoeter vir die winterkoue?

Hoe dit ook al sy, die ryp het ons verlede week kom verras, met skitterende grasperke en motors met toegewasemde ruite wat wentel om die bevrore son van ’n spierwit verkeersirkel.

Een oggend het ons asem eenvoudig voor ons uitgewolk. Waar daar eers net woorde was, of dalk ’n sug, is daar nou bewyse dat ons leef – te midde van dié gebeef.

“B” is vir buitengewoon en besonder. Dié letter staan ook vooraan ’n woord of drie wat so naby aan swets is soos dêmmit aan vloek. Want só koud raak dit nou snags. Presies so ysig.

“B” is vir baie komberse, en behoede jou as jy vergeet om slaapsokkies aan te trek; dis vir bly in die bed as dit jou enigsins beskore is en baadjie dra wanneer jy wel by die deur uit moet gaan.

Hoewel die meeste mense beweer dat hulle nie vir hierdie soort weer uitgeknip is nie, is daar die enkeles onder ons wat die beste daarvan probeer maak.

Bewerasie. Bedremmeld. Beduiweld. “B” is darem ook vir brode en bruintjies en brandewynpoeding. Boeklees en binne bly om te fuifkyk. Barista-bederfies saam met goeie geselskap iewers in ’n inkopiesentrum.

Selfs in vasbyt steek daar egter ’n “B” met bybedoelings. Byt sal die winter ons nog ’n rukkie lank byt. Vingerpunte en ore en neuse wat rooi raak en ysig bly, is nog vir die voorsienbare toekoms ons voorland.

Só ken ons ons liewe, bloukoue Bloemfontein. Bibberweer. Bittereinder-wintertyd. Dan, bloeisel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.