Jongmense, meestal van Bloemfontein, het onlangs die geleentheid gehad om met hul besonderse seëls te spog.
Die Junior Nasionale Seëlskou (Junass) is op 26 Februarie by Kopano Nokeng Lodge aangebied nadat dié byeenkoms weens die Covid-19-pandemie in 2020 en 2021 afgelas is.
Die eerste nasionale seëlskou is in 1984 gehou, waarna dit jaarliks in ’n ander deel van die land aangebied is.
Talle lede van die Vrystaatse jeugvereniging het deelgeneem.
- Ryno Badenhorst (13), ’n leerling aan die Hoërskool Fichardtpark, se tema was “Ou en nuwe skepe”. Hy het die Rapportryerskorps Wierdapark-trofee vir die beste uitstalling in Afrikaans ontvang.
- Mia Barry (8) van Pretoria se tema was “Max, my beste vriend”. Sy het die Derek Brown Centurion-skild ontvang vir die beste nuweling-uitstalling, asook die Ratcliffe-beker wat op meriete deur die jurie toegeken word.
- Kyla Bothma (19), ’n student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), se tema was “Proteas: 3de Vaste Reeks van 1977”.
Sy het die Sam Legator Grand Prix-prys ontvang vir die beste uitstalling op die skou, asook die Setempe 2 000-trofee vir die beste tematiese uitstalling.
- Kytie Greyling (13), ’n leerling aan die Hoërskool Fichardtpark, se tema was “Katte”.
- Tsego Mabale (14), ’n leerling aan die Hoërskool Bloemfontein, het die Conradie-trofee vir die beste tradisionele uitstalling ontvang, asook die Fanie Vermaak Grand Prix-silwer-eerbewys vir die beste uitstalling vir lede van 13 tot 15 jaar. Sy tema was “Lesotho”.
- Mia Marais (19), ’n student aan die UV, se tema was “Geboue”. Sy het die Danie Scheepers-trofee ontvang vir die beste uitstalling vir lede van 19 tot 21 jaar.
- Anke McNeilage (13), ’n leerling aan die Hoërskool Fichardtpark, se tema was “Wilde diere”.
- Reatile Pitso (14), ’n leerling aan die Eunice High School, se tema was “Wiele”.
- Marné van der Walt (13), ’n leerling aan die Hoërskool Fichardtpark, se tema was “Eet gesond”.
- Zandri van Niekerk (11), ’n leerling aan die Laerskool Fichardtpark, se tema was “Noag se Ark”. Sy het die Wigmore-trofee ontvang vir die beste uitstalling vir lede tien tot 12 jaar.
- Tshego Mabale, Reatile Pitso en Siyanda Qwelane, leerlinge aan die Eunice High School, het die beste uitstalling in die klub-afdeling gehad. Hulle het die David Stern Society of Israel Philately-beker gewen. Hul tema was “Tegnologie”.