Hier saam met kinders van die Laerskool Dr. C.F. Visser, met die pakkies kitspap met hoë voedingswaarde, is van links, agter: Riekie Venter (skoolhoof), Randi van Heerden (onderwyser), Nicolette Roelofse, Doré Maritz (albei van Kimberley Express), Natasha Roets en Aniline Da Côrte Carreira (albei van Co-Legacy en Harvest Food).Foto: Verskaf


Kinders van die Laerskool Dr. C.F. Visser en die Hoërskool Heatherdale het danksy Kimberley Express ’n skenking van kitspap met hoë voedingswaarde ontvang.

Adriaan Theisinger, eienaar van Kimberley Express, sê dat dié onderneming die afgelope maande só geseënd was dat hy graag ander mense wou seën.

Aniline Da Côrte Carreira van Co-Legacy, die Vernon Philander-stigting en Harvest Food sê Theisinger het sterk daaroor gevoel dat hy ’n bydrae tot ’n voedingskema vir kinders wou lewer. Daarom het Kimberley Express besluit om maandeliks 250 kinders te voed.

Harvest Food het die skole op 22 Maart saam met personeel van Kimberley Express besoek en by Heatherdale 160 pakkies Peak-kitspap afgelewer. By dié skool word ’n voedingskema bedryf waardeur 164 kinders daagliks kos ontvang.

Van daar het hulle na Dr. Visser vertrek, waar 85 kinders daagliks kos deur ’n voedingskema ontvang. Randi van Heerden en Riekie Venter het namens die skool 140 pakkies van die pap in ontvangs geneem.

Die algehele skenking verteenwoordig 3 000 individuele etes.

Da Côrte Carreira het Thei­singer vir die ruim skenking bedank.

“Jy help leerlinge die optimale kans gee om te leer.”

You need to be Logged In to leave a comment.