Maddie le Roux het die Zwift Academy se pad-tydtoets in Spanje gewen.Foto: Zwift


Die Bloemfonteinse fietsry-ster Madelaine (Maddie) le Roux (27) se professionele loopbaan het ’n groot hupstoot gekry toe sy einde Januarie in die vroue-afdeling van die Zwift-akademie se finale pad-uitdaging in Spanje as die wenner aangewys is.

Die oorwinning is die grootste prestasie in haar fietsryloopbaan tot nou toe.

In ’n onderhoud ná die uitdaging in Denia, Spanje, het Maddie gesê sy was einde verlede jaar by ’n kruispad in haar loopbaan. Sy het nie meer ’n kontrak gehad nadat sy die afgelope twee jaar vir die Internasionale Fietsry-unie (UCI) se Wêreldfietrysentrum in Switserland gery het nie.

Maddie is die oudste dogter van ds. De la Harpe le Roux en sy vrou, Corné.

“Ek moes besluit of ek voortgaan met fietsry. Ek het besluit om nog een jaar te probeer. Ek is so dankbaar vir die geleentheid.”

Die mense van Zwift het haar aangemoedig om die uitdaging wat sy begin het te voltooi.

Uit die duisende deelnemers aan dié uitdaging is drie mans en drie vroue geïdentifiseer wat almal belowende fietsryers is, elk met hul eie spesialiteite.

Hulle het in Januarie aan die uiteindelike ronde deelgeneem wat verlede week oor vier dae (van Dinsdag 20 Februarie tot Saterdag) uitgesaai is, waarna die uitslae bekend gemaak is.

Die ses het aan verskeie uitdagings deelgeneem waarvan die finale een die pad-tydtoetse was wat gehou is om die wenners te bepaal.

Maddie het meegeding teen Katy Hill van Brittanje en Laura Simenc van Slovenië om die eerste plek en ’n plek in Canyon/Sram Generation se ontwikkelingspan.

Vir die Le Roux-gesin is dit nou ’n moeilike tyd met Maddie se ma, Corné, wat baie ernstig siek is met ’n aggressiewe vorm van borskanker.

De la Harpe is die uitvoerende hoof van die NG Kerk Vrystaat se Barmhartigheidsbediening en die stigter van Torings van Hoop.

Hy het op Dinsdag 27 Februarie gesê dit het die naweek baie sleg met Corné gegaan, maar “dit gaan nou bietjies-bietjies” beter.

Corné is sedert 13 Februarie in die Mediclinic Bloemfontein in die waakeenheid. Sy voer al sedert Oktober 2022 ’n moedige stryd teen kanker en het al chemo­terapie en bestraling ontvang.

Maddie het in November tweede gekom in die 947 Ride Joburg-wedren. Volgens Fritz Pienaar, organiseerder van die wedren, het 13 100 mense aan dié gewilde fietsren deelgeneem.

Sy is sedert begin Februarie by haar gesin in Bloemfontein. Sy vertel die ontwikkelingspan is redelik op dieselfde vlak as die een waarvan sy die afgelope tyd deel was in Switserland.

“Die span se hulpbronne is net baie beter en die geleenthede baie meer. Dit is die ontwikkelingspan van ’n wêreld-toerspan. Die geleentheid is daar dat ons in sekere groot wedrenne saam met dié wêreld-toerspanne sal kan deelneem sodat ons van hulle kan leer.

“Die doel is dat ons so sal ontwikkel en verbeter dat ons kan aanbeweeg na die wêreldspan.”

Sy sou volgende week gaan deelneem het aan die Africa-spele, maar het onttrek om nou eers by haar ma in Bloemfontein te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.