In watter stadium het dit ’n skande geraak vir almal wat nie afgetree is nie, om nié besig te wees nie?
Dat jy skuldig voel omdat jy ’n middag vir jouself afknyp om iets lekkers te doen?
’n Mens is geneig om Covid-19 die skuld te gee hiervoor – alles gebeur mos vanjaar hier in die tweede semester om op te maak vir dit wat nie vroeër kon plaasvind nie.
Covid-19 het vir sommige net ’n tydelike ruskans gebied.
Tyd om te besin. Vir dié werkendes wat die meeste gerus het, het dit in baie gevalle ook gepaard gegaan met die meeste stres oor wat die toekoms inhou.
Die gejaag na wind kom al veel langer as ’n dekade.
Die meeste mense sal egter met my saamstem dat die harwar ná die inperkings alles nou net ’n bietjie verder aangejaag het.
Bel jy iemand en kry hom nie in die hande nie, dan dink jy: Hy of sy is selfs nog besiger as ek. Wanneer jy hom of haar uiteindelik in die hande kry, maak jy sommer by voorbaat verskoning dat jy hom bel terwyl hy só besig is.
Ongeag of jy jou eie onderneming het, vir iemand werk, met kinders heen en weer skool toe ry, buitemuurse aktiwiteite het wat iewers in die dolle gejaag ingepas moet word, kos wat teen die spoed van wit lig berei moet word, iewers nog tyd moet maak vir oefening en helaas seker moet maak dat huiswerk gedoen word voordat die kinders van pure moegheid aan die slaap raak. . . daar is genoeg om ons aan die jaag te hou.
Naweke is nie veel beter nie: dis sport en gesellighede en markte en kampe en huiswerk (vir ouers én skoolhuiswerk vir kinders) en inkopies en beplanning en ’n nimmereindigende lys doendinge.
Wanneer jy jou weer kry, is dit Maandag en is jy al klaar weer agter met die werk wat ophoop en ’n string inskrywings in jou dagboek.
’n Lewe wat só vol is, vra beslis ’n ruskans.
Die probleem is dat wanneer die ruskans aanbreek – Saterdagaand saam met vriende of Sondag saam met die familie – is jy so gewoond aan alles wat gedoen moet word, dat jy net aanhou: aanhou kosmaak, seker maak dat almal lekker kuier, bekommerd is oor die vleis wat nie reg gaar word nie.
Selfs dit is nie rus nie.
Rus is wanneer jy jou kop kan kry om nie heeltyd planne te maak nie.
Wanneer jy jouself kry om die bloeisels te sién, die lekker warm lenteson op jou lyf te vóél, die rustigheid deur jou te laat vloei as die son bloedrooi en pragtig in die weste sak.
Ons moet almal ’n bietjie meer vir onsself omgee. ’n Bietjie minder omgee of ander mense dink jy doen nié genoeg nie en net ’n slag asemhaal.
Vir jouself. Vir die mense om jou.
As jy hard gewerk het, rus sonder om skuldig te voel. Jy verdien dit.
Die lewer gaan immers nie oor wat jy alles bereik nie, maar die mense in wie se lewe jy ’n verskil gemaak het.