Veldwerkers van Sensus 2022 het Vrydag (04/02) mense wat op straat in Bloemfontein bly, getel. Hier by twee jeugdiges wat op straat woon is van links Shaun Altee (Kidz Care), Boitumelo Ndlovu (sensus-veldwerker), Marita van Kraayenburg (Kidz Care) Tetelo Thabane (sensus-veldwerker) en Lehlohonolo Motshabi (Kidz Care).Foto: Lientjie Mentz


Hawelose mense is vanjaar ook ingesluit in die plan om al die inwoners van Suid-Afrika te tel.

Marita van Kraayenburg van die Kidz Care Trust, wat aan hawelose kinders in die stad hulp verleen, sê dit is goed dat die organiseerders van Sensus 2022 hande gevat het met bestaande organisasies wat direk met hawelose mense werk.

Almal in die land sal na verwagting tussen 2 en 28 Februarie getel word.

Verskeie sensus-veldwerkers het Vrydag (04/02) saam met personeel van Kidz Care uitbeweeg sodat hulle kan sien waar jong hawelose mense bly. Van Kraayenburg sê die meeste kinders slaap nie op straat nie, maar kom stad toe om te bedel en gaan in die aand weer terug na die township.

“Daar is baie jongmense wat op straat leef en slaap. Dit is goed dat hul menswaardigheid erken word deurdat hulle by die sensus ingesluit word.”

Sy verduidelik die plekke waar dié jongmense bly, soos op die hoek van Ella- en King Edwardstraat in Willows, is hul huis.

“Ons was dankbaar dat sensus-organiseerders ons gekontak het sodat ons saam met hulle kon beweeg en eers vir die jongmense kon verduidelik waarom hul inligting benodig word.”

Kidz Care se personeel loop ’n pad saam met straatkinders om eindelik hul vertroue te wen en vir hulle ’n beter toekoms te verseker. Kinders wat daartoe instem, gaan woon by die sentrum in Roodewal, van waar hulle skoolgaan totdat hulle 18 jaar oud is.

Met die bekendstelling van Sensus 2022 op 2 Februarie by Torings van Hoop het Patrick Kelly van Statistiek Suid-Afrika verduidelik hoekom dit so belangrik is dat elkeen in Suid-Afrika getel word.

“Met die vorige amptelike verkiesing in 2011 was daar 52 miljoen Suid-Afrikaners. Daarvan was 2,7 miljoen in die Vrystaat en 750 000 in Mangaung. Hoewel die sensus elke vyf jaar gehou moet word, is dit nie altyd moontlik nie en moet daar op skattings staat gemaak word. Nuwe getalle is nodig om beplanning vir ’n groot verskeidenheid sektore te doen.”

Kelly sê die presiese getal inwoners is belangrik vir beplanning rondom skole, paaie en elektrisiteitsvoorsiening, asook vir begrotings vir munisipaliteite en nie-regeringsorganisasies.

“Almal baat daarby as korrekte getalle beskikbaar is. Ons vra mense om sensuswerkers te help om die reuse-taak te verrig.”

You need to be Logged In to leave a comment.