Valentynsdag is vanoggend op ’n heel ander manier gevier toe die Hoërskool Sentraal se personeel slaggate rondom die skool reggemaak het.
Dié liefdesdaad deur personeel van die skool is gedoen sodat ouers, leerlinge, onderwysers en ook klante aan die nabure winkelsentrums met ’n geruste hart paaie naby dié skool kan gebruik.
Permanent Pothole Solutions (PPS) het teer teen ’n goeie prys verskaf en personeel het met die skool se toerusting slaggate in Graaff Reinettestraat in Dan Pienaar uitgekap, gevul en vasgestamp. Dirk Strydom, Sentraal se terreinbestuurder, en sy span het 18 slaggate reggemaak.
Nou is dié besige pad wat deur die skoolgemeenskap en besoekers aan die winkelsentrums gebruik word, vir motoriste sommer heelwat veiliger.