Een van BloemNuus se susterskoerante, NoordkaapBulletin, het vanjaar bo tientalle gemeenskapskoerante oor Suid-Afrika heen uitgetroon deur aangewys te word as die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) se Gratis Gemeenskapskoerant van die Jaar.
Helena Barnard, redakteur van die NoordkaapBulletin, is ook in die afdelings vir digitale verslaggewing, asook algemene – en nuusfotografie benoem.
Die eerbewyse is Vrydag 2 Augustus oorhandig tydens die Avbob FCJ-gala-dinee wat in die @Sandton-hotel in Sandton aangebied is.
Gemeenskapsjoernaliste van oor die land heen het saamgetrek om die oggend ’n seminaar by te woon voordat redaksielede vir hul uitsonderlike werk vereer is.
Ander redaksielede van Sentraal24 waaronder BloemNuus, BloemExpress, Vista en VrystaatKroon val, is ook in die kompetisie benoem waarin 2023 se inskrywings deur ’n paneel beoordeel is.
Marti Will van Vista is in die afdeling vir harde nuus benoem. Inge Strydom, subredakteur in Sentraal24 se subkantoor, is benoem vir haar hoofopskrifte in BloemNuus, en die hoofsubredakteur, Madré Marais, vir haar hoofopskrifte in BloemNuus en NoordkaapBulletin.
Oor die eerbewys van Gratis Gemeenskapskoerant van die Jaar sê Barnard, van Kimberley, dat die betrokkenheid van ’n toegewyde subkantoor in Bloemfontein, asook die professionele bydraes van ’n ervare vryskutjoernalis, Charné Kemp, daartoe bygedra het.
NoordkaapBulletin was ’n finalis in die bepaalde kategorie, waarin 55 inskrywings ontvang is, saam met onder meer die Randburg Sun, Roodepoort Northsider, Roodepoort Record, en verskeie gemeenskapspublikasies van die TygerBurger in die Wes-Kaap.
Daar was vanjaar meer as 500 inskrywings vir die kompetisie in verskeie afdelings wat Joernalis van die Jaar, Fotograaf van die Jaar, sport, nuus en digitale verslaggewing, asook beste voorblad en beste agterblad ingesluit het. Charl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, het op die geleentheid gesê dit is vir dié versekeringsgenootskap in samewerking met Media24 en Caxton as borge, ’n eer om die geleentheid aan te bied.
“Met die eerbewyse beklemtoon en vier ons die belangrike rol wat gemeenskapsjoernaliste speel. Ons erken nie net prestasies nie, maar bevestig die belangrike rol wat gemeenskapsjoernalistiek in die vorming van die toekoms het.
“Joernaliste se woorde, ongeag of dit in ink op papier of pieksels op ’n skerm is, bind ons diverse gemeenskappe saam en gee aan ons rigting.”
Elke wenner het ’n trofee ontvang wat in Avbob se fabriek in Bloemfontein vervaardig is. Dit is van soliede kiaathout gemaak.