Sentrum bult spiere vir veiligheidswerk

AfriForum het ‘n Gemeenskaps-veiligheidsentrum in Bloemfontein geopen om veiligheidsdienste aan die plaaslike gemeenskap te bied. Die sentrum, wat verskeie geriewe en ‘n 24-uur beheerkamer bevat, sal ook ander gebiede in die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal bedien. Dit poog om kommunikasie tussen veiligheidsstakeholders te verbeter.


AfriForum het verlede week ‘n splinternuwe Gemeenskaps-veiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein geopen.

Die burgerregteorganisasie wil met dié stap veiligheidsdienste vir die gemeenskap in die stad, asook die hele sentrale binneland, bied.

In die AfriForum-gemeenskaps-veiligheidsentrum wat Donderdag in Langenhovenpark geopen is, is van links Raymond Hohls (bestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum), Joseph Renaud (AfriForum se veiligheidshoof in die sentrale streek) en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum). Foto: Lientjie Mentz

Die sentrum in Langenhovenpark is die eerste in sy soort vir AfriForum, en die oprigting van soortgelyke sentrums elders in die land word nou oorweeg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof, wat die opening van die sentrum op Donderdag 3 April waargeneem het, sê dienste sal ook aan gebiede in die res van die Vrystaat,

Noordwes en KwaZulu-Natal gebied word.

Volgens Raymond Hohls, bestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, beskik die GVS oor uiteenlopende geriewe wat kommunikasie tussen verskillende betrokkenes by veiligheid op een plek byeenbring en verbeter.

Enkeles hiervan behels ‘n opleidingslokaal vir AfriForum-buurtwaglede en ‘n trauma-kamer met oornaggeriewe wat tydelike blyplek vir slagoffers van veral geweldsmisdaad bied.

Die beheerkamer word 24 uur per dag beman en het die vermoë om hommeltuigbeeldmateriaal te volg en ontleet.

Die sentrum dien as die basis van AfriForum se Bloemfontein-kantoor, twee AfriForum-reaksievoertuie en die organisasie se private vullisverwyderingsdiens vir Bloemfontein.

“Ons is hier om die gemeenskap te dien en kommunikasie tussen die verskillende belanghebbendes byeen te bring,” sê Hohls.

Joseph Renaud in AfriForum beheerkamer
Joseph Renaud in AfriForum beheerkamer Credit: Verskaf

Die sentrum het sedert daar in Januarie vanjaar geleidelik met werksaamhede hier begin is tot einde Maart bystand verleen of reageer op 30 inhegtenisnemings; 49 ongelukke of noodsituasies waarvoor mediese bystand

benodig is; nagenoeg 330 gevalle waarin reaksievoertuie uitstuur is; en 59 gevalle waarin verdagte voertuie of individue aangemeld is.

Kriel bestempel die opening van dié GVS as ‘n reusestap vorentoe om gemeenskappe te bemagtig om verantwoordelikheid vir hul toekoms te neem.

“Die Bloemfontein-omgewing beskik oor baie sterk AfriForum-buurtwagte. Die plaaslike polisie speel hier ‘n rol, asook mediesereaksiespanne en

veiligheidsmaatskappye, en hierdie sentrum moet ‘n samebindende faktor wees om kommunikasie tussen al hierdie betrokkenes te verbeter,” verduidelik Kriel.

Hohls benadruk dat die nege bestaande AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein reeds groot suksesse behaal het, maar dat die naatlose skakeling tussen die onderskeie buurtwagte nou noodsaaklik is.

Die stigting van ‘n streeksveiligheidsnetwerk vir AfriForum word nou in die vooruitsig gestel. Dié netwerk – bekend as ‘n steunkring –sal die hele Mangaung-metro, asook die direkte omliggende gebied, dek en ‘n geïntegreerde

benadering tot veiligheid en samewerking oor ‘n gebied van nagenoeg 7 000km2 tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte bewerkstellig.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê deur middel van ‘n doeltreffende steunkring kan misdadigeaktiwiteite in ‘n groter gebied bekamp word.

“So ook kan inligting, soos dié wat met behulp van veiligheidskameras langs paaie ingesamel word, wyer gedeel word.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.