Sentrum skep werk

’n Centlec-oproepsentrum wat werksgeleenthede vir 18 inwoners van die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede gaan skep, word binnekort in Parkweg ingerig.


Tydens die geselligheid op 6 September was van links Gary Long (PHG), Ntabiseng Molongwana (direkteur van die Vereniging vir Mense met Gestremd­hede in die Vrystaat) en Sonette Boshoff (PHG). Foto: Lientjie Mentz

’n Centlec-oproepsentrum wat werksgeleenthede vir 18 inwoners van die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede gaan skep, word binnekort in Parkweg ingerig.

Dit kom nadat Property House Group (PHG) op Woensdag 6 September ’n wynproe-geselligheid aangebied het waarop geld vir dié projek ingesamel is.

Anri Truter, wynmaker van Beyerskloof, het vir gaste meer oor vier van dié landgoed by Stellenbosch se wyn vertel.

Sonette Boshoff van PHG wat die geselligheid saam met Gary Long gereël het, sê sowat R75 800 is net met die veiling op die geselligheid vir die oproepsentrum ingesamel.

“Borgskappe en donasies kom nog in, so ons kan nog nie presies sê hoeveel met die geleentheid ingevorder is nie,” sê Sonette.

PHG het ook op 14 April ’n geselligheid by Jean Webber gehou wat deel van die geldinsameling vir die projek is.

Wim Boshoff, wat die projekkoördineerder namens PHG is, sê die doel van die projek is om ’n verskil in mense se lewe te maak.

“Ons wil vir die mense weer ’n doel gee om in die oggend op te staan. Dit sal wonderlik wees as hulle meer selfstandig kan wees en die projek selfs in die toekoms verder kan uitbrei om werk te skep.”

Sonette sê dit was vir hulle belangrik om ’n projek te begin wat ’n volhoubare inkomste kan verseker.

Jackie Malan van die Vereniging van Mense met Gestremdhede (APD) in die Vrystaat, sê hulle is opgewonde oor die projek en wat dit vir inwoners sal beteken.

Bouwerk moet nou by die sentrum begin om ’n spesifieke lokaal in te rig en toerusting moet gekoop word om die oproepsentrum in te rig.

“Die inwoners het talle behoeftes wat in ag geneem moet word,” sê Malan. “Daar sal onder meer ’n klokkie-stelsel geïnstalleer word om die helpers te roep.” Ander toerusting wat gekoop moet word, sluit meubels, oorfone en ander toerustingin vir die mense se verskillende fisieke uitdagings, asook verf vir die nuwe lokaal in.

Simone Smith, Anri Truter (Beyerskloof), Louw en Charmaine Bruwer van die Beyerskloof-wyne wat gaste Woensdag kon proe.Foto: Lientjie Mentz
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.