Die Engo-sentrum vir bejaardes in Bloemfontein het verlede week sy 80ste bestaansjaar met koek, musiek en saamkuier gevier.
Op ’n geselligheid Donderdag (06/10) in die gemeenskapsaal het sanger Piet Smit inwoners vermaak, waarna elkeen ’n kolwyntjie gekry het om dié groot gebeurtenis te vier.
Jannie Nothnagel, bestuurder van die sentrum, sê dit is ’n voorreg om reeds 80 jaar lank hierdie besondere diens aan ouer mense te lewer.
Die sentrum bestaan sedert 1942, toe dit deur die NG kerk Vrystaat se sinodale kommissie vir die diens van barmhartigheid ontwikkel is.
Dit beslaan 11 ha en huisves nou ongeveer 1 100 ouer mense.
Daar is 654 wooneenhede in die sentrum.
In die versorgingseenheid Ons Tuiste word ongeveer 195 inwoners deur 120 personeellede versorg.
Die aftreeoord bestaan uit Aandrus; Westerbloem fase 1 tot 8, wat deeltitelskemas is; Lofdal, vir afgetrede predikante wat aan die Vrystaatse Sinodale Pensioenfonds behoort; en Ons Tuiste, wat ook ’n afdeling vir mense met demensie het.
Die sentrum bied ’n verskeidenheid aktiwiteite aan inwoners, wat jukskei, Gimtrim, Pilates, binnenshuise rolbal, bingo, brug en breinspeletjies insluit.