Leerlinge vier die verjaardag van die Carel du Toit-sentrum Vrydag 13 Junie. FOTO’s: Verskaf

Die Carel du Toit-sentrum in Bloemfontein vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.

Die sentrum fokus op kinders met gehoorgestremdheid wat gehoorapparate of kogleêre inplantings gehad het en wat moet leer praat. Die skool neem kinders van so jonk soos twee en ‘n half jaar in.

Carin Taute, die skoolhoof van Carel du Toit, sê die doel van die skool is om kinders gereed te kry om by ‘n hoofstroomskool in te pas.

“Die kinders is dus net vir ‘n tydperk by die skool, totdat hulle gereed is om na ‘n hoofstroomskool te gaan.”

Om die 25ste bestaansjaar te vier, het die kinders op 13 Junie partytjie gehou.

'n Opwindende Donkey Derby-fondsinsamelingsgeselligheid vind op 25 Julie ten bate van die Carel du Toit-sentrum plaas.
Carin Taute (skoolhoof, links) en Leani Knauff in die nuwe gang by die Carel du Toits-sentrum. Foto’s: Lientjie Mentz

Nog ‘n opwindende gebeurtenis is die Donkey Derby-geldinsamelingsgeselligheid wat op 25 Julie aangebied word. Die feestelike geleentheid se tema is rondom die gewilde Durban July en beloof ‘n aand van pret, gemeenskapsgees en vermaak.

Leani Knauff van Carel du Toit verduidelik die doel van die geleentheid is om geld in te samel vir opvoedkundige hulpbronne vir die kinders.

“Ons wil graag ‘n sonsoriese tuin op die terrein ontwikkel. Die Nasionale Hospitaal, op wie se terrein Carel du Toit is, het nog ‘n ruimte beskikbaar gemaak waar die skool die tuin wil ontwikkel.

“Hier wil ons ons eie Psalm 23- sensoriese groentetuin ontwikkel,” verduidelik sy. “Dit gaan terapeuties wees en ook ‘n verrykende ruimte wat ‘n belangrike rol in die leerlinge se groei en ontwikkeling sal speel.”

Die Carel du Toit-skool by die Nasionale Hospitaal.

Knauff sê hulle werk hard om die geleentheid onvergeetlik te maak en geld in te samel vir hierdie spesiale projek.

Elke gas wat ‘n kaartjie van R250 koop, word met ‘n driegangmaaltyd bedien, en gaste kan hul eie drinkgoed bring. ‘n Tafel vir agt gaste kos R2000.

Die tema is natuurlik Durban July, en almal word aangemoedig om hul beste voetjie voor te sit. Die gas wat die meeste beïndruk, sal die kans staan om ‘n prys te wen.

Die geselligheid word aangebied in die saal van die NG kerk Fichardtpark in Altonasingel.

Bespreek bywoning by careldutoit25@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.