Ses vereer vir bydrae tot Afrikaanse erfenis

Bloemnuus se redakteur, Lientjie Mentz, was een van die ont­vangers van ’n eerbewys van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) op ’n prestige-aand vir Toekomsbouers.



Bloemnuus
se redakteur, Lientjie Mentz, was een van die ont­vangers van ’n eerbewys van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) op ’n prestige-aand vir Toekomsbouers.

Ses Bloemfonteiners, asook die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke, is vir hul bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis vereer.

Die geleentheid is op 22 Februarie by die Oorlogsmuseum aangebied.

“Die Oorlogsmuseum is, in ’n tyd van erfenisverval, een van die uitnemende plekke in Suid-Afrika wat oor geslagte heen opgebou, versorg en ontwikkel is tot ’n museum waarop elke Suid-Afrikaner trots kan wees,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en hoofleier van Die Voortrekkers, op die toekenningsgeleentheid gesê­.

Die Oorlogsmuseum is vereer vir die uitnemende bevordering en bewaring van die erfenis van die Anglo-Boereoorlog oor ’n tydperk van 90 jaar.

Die FAK het aan Tokkie Preto­rius, die museum se direkteur vir die afgelope 14 jaar, hulde gebring.

“Pretorius het die museum so uitgebrei dat daar erkenning gegee word aan alle Suid-Afrikaners wat weens die oorlog gely het.”

Mentz is vereer vir haar besonderse bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis deur die media.

Sy is sedert 2017 redakteur van Sentraal24 se plaaslike koerant Bloemnuus.

“Lientjie slaag nie net daarin om in Afrikaans ’n duidelike, eerlike mening te gee nie, maar weer­spieël ook die hart van die gemeenskap wat sy dien,” het Langner gesê.

Mentz is ook ’n bestuurslid van Sentraal24 en Volksbladse Kersfonds en dien in die Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) as direkteur vir die Vrystaat en Noord-Kaap.

Corlia Botha, wat sedert 2017 hoofsekretaris van Die Voortrekkers is, is vereer vir haar lewenslange bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis as Voortrekkerleier.

Botha is Die Voortrekkers se eerste vroulike hoofsekretaris.

Langner beskryf Botha as iemand met ’n opregte hart en wat weet “ons jeug is ons beste toekomsbelegging”.

Die FAK beskryf haar as ’n “voorslagvrou met ’n ongeloof­like passie vir jong mense”.

Botha is die vakhoof van Afrikaans aan die Laerskool Onze Rust.

Corrie Scheepers, Die Voortrekkers se hoofbeskermvrou sedert 2017, is ook vir haar lewenslange bydrae as Voortrekkerleier vereer.

Dié voormalige onderwyseres het oor die jare verskeie leiers­posisies in die beweging beklee en het in 1989 die eerste vrou geword wat die Vrystaatse Voortrekkers lei.

Langner sê sy vervul die rol van hoofbeskermvrou met baie styl en waardigheid.

Marda Oosthuysen, voormalige president van die Dameskring, is vereer vir haar bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis deur die Dameskring. Dit is ’n landwye vroue­organisasie met die doel om Afrikaanse Christenvroue te bemagtig en inspireer.

Karn Botha, wat die afgelope 28 jaar lid van die Dameskring is, is vereer vir haar bydrae deur dié organisasie.

Botha was ook onder meer twee dekades direkteur van Families­ Suid-Afrika (Famsa) se Bloemfontein-tak.

Marita Herselman

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.