Die eerste van vele werksessies deur Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA) om mense oor die Vrystaat heen te motiveer en te bemagtig is Vrydag (14/04) by die Mooihawe-tehuis vir bejaardes aangebied.
As deel van die VVA se projek Leef Volhoubaar in 2023, het Steven Barnard van Garden of Life met die ondersteuning van Pieter Vorster van Alliance SA ’n kursus aangebied oor hoe om ’n groentetuin aan te lê en so te help om armoede teë te werk.
Vorster sê Alliance SA is ’n burgerlike beweging wat hy en dr. Vincent Maphai 18 maande gelede begin het om die verval van die staat, asook die verval van die innerlike krag van gemeenskappe, te herstel.
Corlia Karsten, die VVA se bemarkingskoördineerder, sê VVA-dienspunte soos kantore van maatskaplike werkers, voorskoolse sentrums en tehuise vir bejaardes het reeds verlede maand begin om hulle vir die tuinmaakprojek voor te berei. By punte waar nie beddings is nie, is tuintjies in motorbuitebande aangelê.
Lede van VVA-takke van Bloemfontein, Brandfort, Zastron, Wesselsbron, Kroonstad, Bothaville, Bethlehem en Ficksburg asook Engo en personeel en leerlinge aan die Hoërskool Heatherdale het Vrydag se werksessie bygewoon.
Werksessies oor bemarkingstegnieke vir groente en hoe om ’n klein onderneming te bestuur, word onderskeidelik in Augustus en Oktober aangebied. Rig navrae aan Karsten by bestuurder@mooihawe.co.za.