Lede van die polisie vergesel Kelopa Mahlatsi (42, middel, in swart) uit die kantoor van die departement van arbeid tydens sy inhegtenisneming, Donderdag in die Bloemfonteinse middestad. Foto: Lientjie Mentz

Die kantoorbestuurder van die Bloemfontein-tak van die departement van arbeid, Kelopa Bethuel Mahlatsi (42), wat op Donderdag 3 Julie in hegtenis geneem is, het Maandag saam met 15 ander verdagtes in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Mahlatsi en sy 15 medebeskuldigdes het verskyn op aanklagte wat hul beweerde verbintenis met grootskaalse bedrog by die Werkloosheidsversekeringsfonds en korrupsie-sindikate aanspreek.

Hul verskyning in die hof volg op ‘n operasie waarin verdagtes oor die Vrystaat en Gauteng heen in hegtenis geneem is.

Brig. Motantsi Makhele het Donderdag op die toneel by die departement van arbeid se kantoor op die hoek Wesburger en Charlotte Maxeke-straat gesê die inhegtenisnemings volg op ‘n vyf maande lange ondersoek van bewerings van bedrog en korrupsie binne die departement.

Brig. Motantsi Makhele spreek die media toe nadat ‘n senior amptenaar van die departement arbeid Donderdag 3 Julie in Bloemfontein se middestad in hegtenis geneem is. Ftoto’s Lientjie Mentz

Mahlatsi was aanvanklik nie in die kantoor toe die polisie daar opdaag nie, maar ingeligtes het gou verklap waar hy was. Hy is na die kantoor geneem voordat die polisie hom in ‘n ongemerkte voertuig van die toneel af na die Parkweg-polisiekantoor geneem het.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery nadat hulle in hegtenis geneem is tydens ‘n gekoördineerde polisie-operasie onder leiding van die polisie se provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad – ondersteun deur misdaadintelligensie, die taktiesereaksiespan (TRT), openbareordepolisiëring (POP) en die berede eenheid.

Die intelligensiegedrewe operasie, wat in Bloemfontein, Bethlehem, Welkom en ander dele van die Vrystaat uitgevoer is, het ‘n sindikaat aan die lig gebring wat na bewering

individue gewerf en hul persoonlike inligting gebruik het om bedrieglike WVF-eise in te dien. Die eise is met wettige maatskappyname geregistreer – sonder die medewete van die betrokke maatskappye – en is verwerk asof dit geldig is.

Die polisie het Donderdag 3 Julie toegeslaan op verdagtes in Bloemfontein, Welkom en Bethlehem.

Die geld is dan na bewering onder werwers, die geïmpliseerde regeringsamptenaar en, in sommige gevalle die identiteitshouers self, gedeel. Voorlopige ondersoeke skat dat die departement van arbeid geldelike verliese van meer as R1,5 miljoen gely het, met die beskuldigde amptenaar wat na bewering persoonlik deur meer as R500 000 verryk is.

Bewyse dui daarop dat van die onwettige geld direk deur tussengangers en begunstigdes na die amptenaar se bankrekening oorgeplaas is

Die ander 15 verdagtes in die saak is: Kamoho Letuka (47), Thembinkosi Meshack Nelani (41), Pogisho Isaacs Senakgomo (60), Molefi Douglas Mayoba (55), Vuyo Kati (36), Tshendo Motshabi (38), Dintlese Jenipher Motshabi (51), Lehlohonolo Motloung (38), Lucas Marumo Lecoko (41), Thabane Clifford Nkolonyane (32), Senjanamane David Ramatsoele (35), Thabang Benedict Thipe (46), Vuyane Albert Njonondwana (49), Teboho Theron Thwani (38) en Bongani Radebe (41).

Die eerste inhegtenisneming was dié van die 42-jarige kantoorbestuurder. Daarna het die polisie die 15 ander verdagtes in die Vrystaat en Gauteng in hegtenis geneem.

Met die verdagtes se verskyning Maandag in die hof is borgtog vir Mahlatsi op R10 000 toegestaan; vir Kamoho Letuka op R3 000; vir Bongani Radebe op R2 000; en die oorblywende 13 beskuldigdes se borgtog is op R1 000 elk toegestaan.

Bykomende verdagtes sou na verwagting by die saak gevoeg word en op Woensdag 9 Julie in die hof verskyn.

Die saak is tot 25 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, sê die verwikkelinge word verwelkom en het groot lof vir die wetstoepassingssagentskappe se gekoördineerde pogings.

“Hierdie saak beklemtoon die NVG se onwrikbare vasberadenheid om korrupsie sonder vrees, begunstiging of vooroordeel te vervolg, veral wanneer openbare geld wat bedoel is om kwesbares by te staan, wanbestee word. Pogings om diegene wat openbare vertroue en institusionele integriteit ondermyn, aanspreeklik te hou, bly ‘n voorkeursaak om openbare vertroue in die staat te herstel.”

Lt Gen. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris van die polisie in die Vrystaat, het die span geloof vir die toewyding en goeie uitvoering van die operasie.

“Dit is hoog tyd dat diegene wat die regeringstelsels uitbuit vir persoonlike gewin verantwoordelik gehou word vir hul optrede.

“Ek wens die speurders geluk met hul toewyding tot die regsproses.

“Die operasie dien as ‘n waarskuwing dat misdaad ‘n mens niks in die sak bring nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.