Toe sy 60 word, gee ons vir Ma ’n handsak present.

Ek onthou die bont vierkantjies van verskillende teksture leer nog goed. Dit was vir my so mooi, ek het heimlik gewens die sak was vir my.

Ma het die geskenk oor haar skouer gegooi en uitgelate in die rondte geswaai.

Die blokkies in rooi, geel, groen en bruin leer het verby haar geswiep.

Sy het gelag en gesê elke kleur vertel ’n stukkie storie van haar lewe. Dit was Ma. Alles áán haar en óm haar het stories vertel. Sestig het skielik vir my jonger gelyk as wat ek gedink het dit sou wees.

Later vandeesmaand verkry ook ék reg van toegang tot die parkeerplek wat aandui “Moms, prams and seniors”. Laasgenoemde het betrekking op my.

Ek glimlag dikwels daaroor en wonder wanneer ek dié uitnodiging sonder voorbehoud gaan aanvaar.

’n Goeie vriendin wil onlangs weet of ek die sestigspook, soos sy dit noem, so vreesaanjaend vind soos sy.

Hoewel ek uit die veld geslaan was oor haar vraag, het dit my op ’n tog van terug sowel as vooruitdink gestuur.

Op die oggend van my sesde verjaardag het ek vir Pa gevra of ek maar vir die mense kan vertel ek is al in die skool.

Hy het gelag en vir my verduidelik dat dit nog 60 slapies was voordat ek regtig by die skoolbank sou inskuif. Waarom het daardie 60 dae soos ’n nimmereindigende ewigheid gevoel, terwyl die afgelope 60 jaar soms korter as ’n skooljaar voel?

Ek trek Ma se handsak na al die jare uit die kas en begin elke storie van haar wat bly voortleef het in my, uitpak op die vloer.

Ek dink aan my twee broers wat al vir ’n leeftyd ’n laer om my trek.

Die lief en leed saam met die man van my drome lê reeds twee derdes van my 60 jare vol.

My kinders loop al die helfte van my lewenspad met my saam.

Vriende met wie ek reeds vir ’n halfeeu lank kan lag en huil, kom sit steeds aan vir ’n kuier om die tafel soos van ouds.

Dis egter toe ek Ma se handsak oor my skouer gooi en uitgelate in die rondte begin swaai, en die blokkies in rooi, geel groen en bruin leer verby my swiep, dat ek die antwoord kry.

Die afgelope 60 jaar het so vinnig verby gesnel, want dit moes plek maak vir vele stories om nog geskryf te word – stories vol drome en voluit leef saam met elkeen wat ek liefhet, stories van nuwe vriende wat ’n pad kom ooptrap in my hart, stories oor nuwe geleenthede wat ek aangryp met die ywer van iemand wat die pad al lank loop en stories van diere raaksien in die wit Vrystaatse wolke wanneer ek in die tuin op my rug lê en droom.

Sestig is toe inderdáád jonger as wat ek gedink het dit sou wees.

You need to be Logged In to leave a comment.