Seun (13) se vernuf twee kolhoue werd

Sommige gholfspelers speel hul hele lewe lank sonder om ’n kolhou te slaan, maar ’n 13-jarige Bloemfonteiner het dit sommer twee keer in een maand reggekry.


Sommige gholfspelers speel hul hele lewe lank sonder om ’n kolhou te slaan, maar ’n 13-jarige Bloemfonteiner het dit sommer twee keer in een maand reggekry.

Tiaan Louw op die Bloemfontein-gholfbaan se 16de setperk, waar hy Sondag ’n kolhou geslaan het.Foto: Lientjie Mentz

Tiaan Louw, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Fichardtpark, het op Vrouedag 9 Augustus saam met twee vriende gholf gespeel en sy eerste kolhou op die agtste putjie op die Bloemfontein-gholfbaan behaal.

Op Sondag 1 September het hy dit weer gedoen en op een van die moeilikste putjies op dié gholfbaan ’n kolhou op die 16de setperk behaal.

Tiaan het op 9 Augustus saam met Botshepehi Phako (gr. 8) en Tshepang Setshego (gr. 10), albei van die St Andrew’s School, gespeel toe hy die eerste kolhou geslaan het.

“Ek het goed gevoel toe ek die hou slaan, maar die putjie was agter ’n bos, so ek het nie geweet waar die bal is nie. Toe ons op die setperk kom, lê daar net twee balle. Ons besef toe dit is my bal in die putjie,” vertel hy.

d

Tiaan Louw (middel) se medespelers Sondag 1 September, was Dodds Pringle en André de Villiers (regs).

Sondag het Tiaan saam met Dodds Pringle en André de Villiers gholf gespeel. Dodds sê hy speel al 30 jaar gholf en het nog nooit ’n kolhou geslaan nie.

“Dit vat baie vaardigheid om ’n kolhou te slaan,” sê hy.

Tiaan het vanjaar al in talle gholftoernooie gespeel en is gekies vir die Vrystaat-o.15-span, sowel as die Vrystaat o.19B-span.

Hy het in April die US Kids-toernooi op die Serengeti-gholfbaan in Johannesburg gewen. 

Op 4 en 5 Mei het
hy die o.15-toernooi op die Clarens Vrystaat-toernooi gewen en was algeheel
derde in die o.19-afdeling.

In die Junior
Afrika-toernooi op 20 tot 22 Augustus by Sanlameer het hy vierde gekom.

Tiaan sê hy hoop
om eendag ’n professionele gholfspeler te word. Hy speel al vandat hy agt jaar
oud is en spandeer tussen 4 en 6 dae per week op die gholfbaan.

“Dit is vir my ’n
baie lekker sport. Dit is lekker in die natuur en ’n mens maak vinnig vriende.”

Hy ontvang afrigting by Corné Viljoen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.