Nadat hy vroeg in Januarie sy linkerarm in ’n ongeluk met sy veldmotorfiets verloor het, is Erik “Chompie” du Plooy (10) terug by sy ouerhuis in Bloemfontein.
Erik is Donderdag (13/01) uit die Mediclinic Bloemfontein ontslaan nadat sy arm op Vrydag 7 Januarie geamputeer is.
Hy het op 2 Januarie met sy 65 cc-veldmotorfiets op die baan van die Bloemfontein Offroad Club in Tempe geval.
Die motorfiets het ’n pap agterband gekry terwyl hy gery het, waarvan hy nie bewus was nie. Hy het geval toe die fiets in ’n sprong skuins deur die lug getrek het.
Verskeie operasies is gedoen om sy arm te probeer red, maar dit was onsuksesvol.
JD Ferreira, sy oom, sê die familie is dankbaar dat hy weer by die huis is.
Erik, ’n gr. 5-leerling aan Grey-kollege (primêr), se eerste dag terug by die huis was goed.
“Hy is baie positief. Hy het vrede met sy situasie gemaak en hy inspireer ons elke dag. Ons leer elke dag lesse by hom,” sê Ferreira.
Hy sê Erik is ’n fenomenale en selfstandige kind.
“Met wat gebeur het, het die Here vir hom ’n pad gekies. Ons is daarvan oortuig dat net groot en magtige goed op sy pad wag. Hy sal ’n verskil in die samelewing maak.”
Ferreira sê die fisieke pyn sal waarskynlik met tyd kom en gaan, maar dit het Vrydag baie goed met Erik gegaan.
Dit is nog nie bekend wanneer hy sal teruggaan skool toe nie.
Ouers Marné en Rudi en broer Wian is nou op sy rehabilitasie gefokus.
Wian, ’n gr. 10-leerling aan Grey-kollege (sekondêr), is self ’n knap veldmotorfietsryer.
Ferreira sê dit is moeilik om hul gevoel oor mense se geweldige ondersteuning in dié tydperk te beskryf.
“Dankbaarheid is seker die eerste woord wat opkom, maar partykeer voel dit asof dit nie genoeg is om te beskryf wat jy ervaar nie. Die mense was en is vir ons goed.”
Hy sê die familie het boodskappe van bemoediging van oor die wêreld heen ontvang.
Ferreira sê die mediese span wat na Erik gekyk het, was wonderlik.