Die twee Bloemfonteinse spanne wat deel is van vanjaar se Varsitybeker, het albei Maandag 24 Februarie geseëvier in die tweede ronde van die reeks.
Die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas, die 2024-kampioene, het ’n oorwinning van 59-29 behaal teen die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) op Shimlapark in Bloemfontein.
Dit mag dalk lyk na ’n wegholoorwinning vir die Shimlas, maar dié span moes hard werk om die besoekers van Johannesburg te klop – veral in die tweede helfte van die wedstryd.
Die Shimlas het sy eerste tuiswedstryd uitstekend begin met ’n drie deur Liam Shamburg slegs 20 sekondes van die Shimlas se eie afskop.
Sommer vinnig het die kampioene die punte opgehoop en het hulle voorgeloop met ’n telling van 27-0.
Ntokozo Hlophe en Regan Izak het opgevolg met drieë voordat Wits begin terug veg het en Setshaba Mokoena die Shimlas onverhoeds betrap het.
Teen halftyd het die Shimlas 43-14 voor geloop.
Ramon Uys van die Shimlas is as die FNB Player that Rocks aangewys.
Op die rugbyveld van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het die Ixias ’n oorwinning teen die Ikeys behaal.
In hul wedstryd het die Ixias hard baklei vir ’n historiese oorwinning van 23-19 toe hulle die manne van Kaapstad die eerste keer geklop het.
Devinto Vergotine, Adielson Gouveia en Sisipho Nofuyha het drieë vir die Ixias gaan druk en Jakobus Cloete van die Ixias is aangewys as die wedstryd se FNB Player That Rocks.
In die ander wedstryde Maandag het die Noordwes Arende die knie gebruig voor ’n sterker span van Maties.
Maties het met 29-27 op die Fanie du Toit-sportveld in Potchefstroom gewen.
In Gauteng het die Universiteit van Pretoria (Tuks) die derby teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) 37-29 gewen.
Die Shimlas speel weer Maandag 3 Maart op eie bodem wanneer hulle om 16:45 op Shimlapark teen die UJ speel.
Die wedstryd word op Supersport Rugby uitgesaai.
Dieselfde dag om 19:00 pak die SUT die span van Maties op die Danie Craven-stadion op Stellenbosch.