Kaptein van die SUT Jandré de Beer gaan oor vir ’n drie teen die Shimlas.Foto: Varsitybeker


’n Heerlike atmosfeer het geheers toe ’n groot skare Bloemfonteinse studente Maandag (27/03) op Shimlapark saamgetrek het om hul plaaslike spanne in die Varsitybeker-toernooi te ondersteun.

In dié wedstryd het die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Shimlas hul stem dik gemaak teen hul bure, die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Ixias, toe die twee mekaar in die sesde ronde van die toernooi gepak het.

Shimlas het reeds teen rustyd voorgeloop en van ’n oorwinning seker gemaak met ’n uitstekende poging, wat 14 drieë ingesluit het, vir ’n eindtelling van 68 – 36.

Die Shimlas het met dié oorwinning opgeskuif op die punteleer en is nou derde met 20 punte – dieselfde as Maties. Ixias het 17 punte ná die wedstryd.

Teen rustyd het Kwezi Dlamini, Dylan Sjöblom, William Moffat, Chadd Adams en Lourens Oosthuizen reeds oorgehardloop vir ’n stewige telling van 38 – 22.

Vir die Ixias het Janco Cloete en kaptein Jandré de Beer in die eerste 40 minute drieë gedruk.

Tien minute nadat die tweede helfte begin het, het Cloete weer ’n drie gaan druk. Mamello Moshoaliba se bydrae en nog ’n drie deur De Beer was nie genoeg om die reuse-aanslag van die Shimlas te troef nie.

Net om doodseker te maak, het Shimlas se AV Maceve, Oosthuizen en Liyema Mgwigwi ook drieë gedruk.

Oosthuizen is as FNB se speler van die wedstryd aangewys.

Die volgende ronde vind Maandag (03/04) plaas.

Die SUT sal om 17:00 teen die Universiteit van Kaapstad (Ikeys) in die SUT se rugbystadion meeding.

Die Shimlas pak die span van Maties om 19:00 in die Danie Craven-stadio­n in Stellenbosh.

You need to be Logged In to leave a comment.